Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ventersdorp-boere keer vermeende skaapdiewe aan

Vier vermeende skaapdiewe wat hulle in ’n groep boere vasgeloop het, is vasgetrek en verskyn Maandag weer in die landdroshof in Ventersdorp.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê Simphiwe Sehumelo (20), Anthony Moosa Kock (31), Stone Daniël Matabela (30) en Itumeleng Modisane (19) bly in aanhouding nadat hulle Donderdag die eerste keer op aanklagte van veediefstal verskyn het.

Volgens Myburgh het ’n boer naby Ventersdorp die mans glo Maandag omstreeks 06:30 op sy plaas betrap toe hulle een van sy skape in hul Toyota Corolla gelaai het.

“Hulle het glo in die voertuig gespring en weggejaag.”

Die vermeende skaapdiewe het nege ander skape wat hulle vermoedelik ook wou steel, langs die pad gelos waar hulle die diere na bewering vasgemaak en in lang gras versteek het.

’n Groep boere het die Corolla agternagesit en die polisie laat weet. Boere in die omgewing het intussen die pad toegeparkeer en die vermeende diewe vasgekeer.

Myburgh sê die bestuurder van die Corolla het toe, vermoedelik in ’n poging om te ontsnap, in ’n dienspad ingedraai, en daar het hul teenspoed eers begin.

Myburgh sê die voertuig se onderstel het vasgeval. “Dit kon nie verder vorentoe beweeg nie, hoewel die wiele bly tol het. Die voertuig het blykbaar aan die brand geslaan weens die wrywing van die tollende bande.”

Die verdagtes het toe probeer weghardloop. “Die boere het een van hulle gevang en aan die polisie oorhandig,” sê Myburgh.

“Die een skaap wat in die Corolla was, is gered voordat die voertuig deur die vlamme verswelg is.”

Die nege ander skape is aan die eienaar terugbesorg. Die polisie se veediefstaleenheid het die drie ander verdagtes die volgende dag (Dinsdag) vasgetrek.

Genl.maj. Ryno Naidoo, waarnemende polisiekommissaris in Noordwes, het die boere geloof vir hul hulp en samewerking met die polisie om die vermeende diewe vas te trek.

Hy het ook die eienaar van die skape geprys dat sy skape gemerk is in ooreenstemming met die Wet op die Identifikasie van Diere. Dit het dit moontlik gemaak om met sekerheid te bepaal wie die skape se regmatige eienaar is.

“Misdaad kan bekamp word en gemeenskappe sal veiliger wees wanneer die polisie en lede van die gemeenskap saamwerk,” het Naidoo gesê.

Meer oor:  Ventersdorp  |  Veediefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.