Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Verdagte in huurmoord op steroïede-koning glo vermoor
William “Red” Stevens
William “Red” Stevens.

Die man wat glo die huurmoordenaars gekry het wat die sogenaamde steroïede-koning Brian Wainstein in Augustus 2017 vermoor het, is na verneem word Dinsdag kort ná 19:00 in Kraaifontein doodgeskiet.

Netwerk24 verneem William “Red” Stevens, vermeende leier van die 27-bende, is deur vier mans geskiet. Die voorval was by sy huis in Rembrandtstraat, Kraaifontein.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het die skietvoorval bevestig. Hy sê die omstandighede waaronder ’n 58-jarige man in Rembrandtstraat doodgeskiet is, word ondersoek.

Hy wou egter nie die slagoffer se identiteit bevestig nie.

Volgens Traut het drie mans na verneem word van die toneel gevlug. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Stevens is op 22 Desember 2020 saam met Jerome (Donkie) Booysen en Mark Lifman in verband met Wainstein se moord in hegtenis geneem.

Hulle het op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, moord en geldwassery in die landdroshof in Kaapstad verskyn en is op dieselfde dag op borgtog van R100 000 elk vrygelaat.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 9 Februarie uitgestel.

Bronne het Dinsdag kort ná die skietvoorval in Kraaifontein gesê dat die skieters in ’n silwerkleurige voertuig by Stevens se huis opgedaag het.

Die toneel in Rembrandtstraat, Kraaifontein, waar Williams (Red) Stevens glo Dinsdagaand vermoor is. Foto: Verskaf

Daar is teruggeskiet en minstens een van die skieters is glo gewond.

Die staat het in Lifman, Stevens en Booysen se borgtogaansoek gesê daar is getuies wat hulle regstreeks met die moord verbind.

Wainstein is op 18 Augustus 2017 in die vroeë oggendure doodgeskiet waar hy langs sy vriendin en hul dogter lê en slaap het. Hy is vier keer in die kop geskiet.

Die staat voer aan Lifman het vir die sluipmoordaanval betaal. Hy het die geld glo vir Booysen gegee wat op sy beurt vir Stevens betaal het.

Stevens het glo die dienste van die huurmoordenaars, erkende lede van die 27-bende, bekom.

Die staat het ook aangevoer dat Lifman en Booysen ná Wainstein se dood voortgegaan het om uit die opbrengste van steroïedesluikhandel te baat.

Die drie het in hul borgtogaansoek aangevoer dat die staat ’n swak saak teen hulle het. Hulle het gesê hulle is nie ’n vlugrisiko nie, gegewe dat die moord reeds drie jaar gelede gepleeg is en dat toe hulle op 15 Desember 2020 ingelig is dat lasbriewe vir hul inhegtenisneming uitgereik is, hulle hul volle samewerking aan die nasionale vervolgingsgesag en die ondersoekbeampte gegee het.

Lifman en Booysen, beskuldigde nommer een en twee, het aan die hof gesê dat hulle sakemanne is en geen beswaar het om hul paspoorte by die hof in te handig nie. Hulle het die hof egter gevra om nie die staat se versoek toe te staan dat hulle onder huisarres geplaas moet word nie.

Hulle het gesê hulle is sakemanne wat betrokke is by die ontwikkeling van eiendomme en dit is noodsaaklik dat hulle hul kliënte kan gaan sien.

Hulle het ook gesê dat hulle hul vuurwapens vir selfbeskerming nodig het.

LEES OOK: 'Wraaktog' in Kraaifontein ná moord op vermeende leier

William (Red) Stevens se vermeende moordenaars het glo in dié voertuig van die toneel af gevlug. Foto: Verskaf
Mark Lifman (links), Jerome (Donkie) Booysen (middel) en William (Red) Stevens verlaat die landdroshof kort nadat borgtog aan hulle toegestaan is. Foto: Adrian de Kock

Meer oor:  Brian Wainstein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.