Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Verdagte in roof vas na pa 'lokval' vir hom stel
Ter Illustrasie

’n Lid van ’n vermeende rowersindikaat was op pad om sy pa te ontmoet toe dié hom bel, salig onbewus daarvan dat die polisie saam met sy pa op hom wag.

Die polisie in Silverton, Pretoria, beskou Dinsdag se inhegtenisneming van die 24-jarige man as ’n deurbraak in die ondersoek na ’n bedrywige gewapende bende.

Kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, sê ’n RAM-afleweringsvoertuig het Dinsdag net voor 11:00 by ’n bestemming in Nellmapius, oos van Pretoria, stilgehou om goedere af te lewer.

“Vyf mans het in ’n silwergrys Amarok-bakkie by hulle stilgehou en die twee werkers van RAM, sowel as die veiligheidswag wat hul vergesel het, oorval.

“Die wag moes op die teerpad lê en een van die rowers het skote langs hom in die pad afgevuur. Hy is lig beseer toe van die stukke teer en klippies teen hom opgeskiet het,” sê Sepato.

Die ander rowers het die RAM-werknemers gedwing om die bagasieruim van hul voertuig oop te maak.

Binne was minstens 30 selfone, sommige met ’n waarde van R12 500, sowel as pakke babadoeke.

Die rowers het alles in hul bakkie gelaai en weggejaag.

“Die Silverton-polisie is ontbied. Hulle het die toneel ondersoek en inligting versamel wat dieselfde dag na ’n huis in Mamelodi gelei het,” sê Sepato.

Die seun was nie tuis nie en die pa het hom gebel. Hy het sy seun gevra om hom iewers te ontmoet. Die polisie het saamgegaan.
Kapt. Jan Sepato

Voor dié huis het die einste Amarok-bakkie gestaan.

Die huiseienaar het bevestig dat dit sy bakkie is, maar bygevoeg dat sy 24-jarige seun dit die oggend geleen het.

“Die seun was nie tuis nie en die pa het hom gebel. Hy het sy seun gevra om hom iewers te ontmoet. Die polisie het saamgegaan.”

Die seun het die gesteelde goedere , sowel as ’n pistool en ’n rewolwer uitgewys waar dit in die bagasieruim van ’n ou Toyota-wrak weggesteek was.

“Ons vra die gemeenskap om te help met inligting wat tot die inhegtenisname die res van die vermeende sindikaat sal lei,” het Sepato gevra.

Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en die besit van gesteelde eiendom.

Meer oor:  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.