Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Verdagte in student se moord was op parool vir seks-klag

Die man wat in hegtenis geneem is vir die moord op Precious Ramabulana, ’n student van Limpopo, word glo reeds deur ’n aanklag van ’n seksuele aard in die gesig gestaar, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Ramaphosa was Sondag in Makhado om sy medelye aan Ramabulana se familie te betoon, en het in ’n video wat op Twitter gedeel is gesê dié aanklag hou verband met verkragting.

“Wat my selfs meer hartseer maak, is dat die verdagte al voorheen slaags was met die gereg met ’n soort verkragting-aanklag. Ek het nie al die besonderhede nie, maar hy was steeds besig om nog prooi te soek,” sê Ramaphosa.

Ramaphosa het in die Twitter-video gesê dit is ’n “nasionale skande” dat ’n jong vrou met ’n belowende toekoms se lewe beëindig is deur ’n man wat haar soos ’n “dier afgeslag het”. Hy sê die regering sal sy veldtog oor geweld teen vroue verskerp.

“As mans blyk dit dat ons volskaalse oorlog teen die vroue van Suid-Afrika verklaar het,” sê Ramaphosa.

Hy sê die staat moet ’n rekord hou van mense wat van misdrywe aangekla word wat verband hou met geweld teen vroue en kinders. Diegene wat skuldig bevind word aan dié soort misdrywe behoort nie bloot die tronklewe “geniet” nie, maar moet aan “harde arbeid” onderwerp word.

“Party kom sonder berou uit die tronk en dan doen hulle net weer dié goed,” sê Ramaphosa.

Ramabulana is verlede Sondag meer as 50 keer met ’n mes gesteek nadat sy glo in ’n kamer verkrag is wat sy in ’n huis gehuur het, nie ver nie van die Ramokgopa-kampus van die Capricon TVET-college in Botlokwa waar sy gestudeer het.

’n 28-jarige man is Donderdag in Botlokwa in hegtenis geneem nadat Ramabulana se selfoon, asook ’n bebloede mes en klere gekry is in die huis waar hy vasgetrek is.

Volgens Ramaphosa sal die familie van Ramabulana ondersteun word om ’n fonds ter ere van haar te stig wat sal help om geweld teen vroue te bekamp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.