Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Verdagte vas ná bejaarde egpaar se wrede moord

WAARSKUWING: DIE INHOUD VAN DIE BERIG KAN SENSITIEWE LESERS ONTSTEL.

Henning en Hilda Schourieis Saterdag tydens ’n gewapende roof vermoor. Foto: Facebook/Bergbron-gemeente

Een verdagte is vas in verband met die wreedaardige moord op ’n bejaarde egpaar Saterdag.

Henning Schourie (82) en sy vrou, Hilda (80), is Saterdag 12:55 in hul huis in Sophiatown, Johannesburg, oorval en vermoedelik doodgeslaan. Die egpaar het blykbaar alleen gewoon.

Kapt. Jerbes de Bruyn, klusterwoordvoerder van die polisie, sê die polisie ondersoek ’n saak van moord en huisroof en het reeds ’n verdagte in aanhouding. Dit lyk tot dusver nie asof daar iets geroof is nie, maar die ondersoek is nog aan die gang, sê hy.

Volgens De Bruyn was daar so baie bloed op die toneel, dat dit moeilik was om met die eerste oogopslag agter te kom hoe presies die egpaar dood is.

“Die nadoodse ondersoek sal die oorsaak bepaal.”

Volgens de Bruyn was die ADT-veiligheidsmaatskappy eerste op die toneel en het hulle deur die venster gesien hoe ’n verdagte Hilda slaan.

“Die veiligheidswag het vir hulle geskree om haar te los. Dis toe dat die aanvaller uithardloop en oor die muur spring.”

Volgens De Bruyn het die veiligheidswagte die aanvaller agternagesit en hom in die been geskiet. Hulle het die gewonde man in hegtenis geneem.

Die vermoorde egpaar het langs mekaar in die sitkamer gelê toe die polisie hulle aantref.

De Bruyn sê die polisie probeer nog vasstel of daar nog mense by die moord en roof betrokke was. Dis ook nie seker of die moordenaar/s gewapen was nie, maar die polisie het geen vuurwapens op die toneel aangetref nie.

Ek het gehoor die bure het die oom en tannie hoor skreeu. Hulle (die bure) het toe vir die rowers terug geskreeu hulle moet hulle los en toe dadelik die buurtwag en polisie gebel.

“Daar is ’n gebreekte venster, maar ons is nog nie heeltemal seker of hy/hulle daardeur is en of hy/hulle deur die deure ingekom het nie,” sê De Bruyn.

Ds. Stephan Briel, predikant van die Gereformeerde gemeente Bergbron, waar die egpaar lidmate was, is van die voorval in kennis gestel nadat die polisie ’n noodnommer – ’n ander lidmaat van sy gemeente – gebel het.

Briel is toe dadelik na die toneel waar hy die egpaar se seun ontmoet het.

“Ek het gehoor die bure het die oom en tannie hoor skreeu. Hulle (die bure) het toe vir die rowers terug geskreeu hulle moet hulle los en toe dadelik die buurtwag en polisie gebel,” sê Briel.

Hy het die polisieondersteuning as “wonderlik” beskryf.

Volgens Briel was sy erediens Sondagoggend baie emosioneel, met lidmate wat plek-plek gesnik het.

“Die Here het egter kom vertroos,” sê hy.

Die Gereformeerde gemeente Bergbron het Saterdag op Facebook geskryf: “Hierdie liewe mense, oom Henning en tannie Hilda Schourie, is vanmiddag oorlede in ’n gewapende roof by hulle huis. Ons gemeente sal hulle baie mis. Ons eer hulle nagedagtenis.” 

Meer oor:  Johannesburg  |  Moord  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.