Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Verdagte vas oor Pieter de Lange se moord

Niks sal hom ooit kan terugbring nie.

Konst. Pieter de Lange en sy vrou, Nelmarié. Foto: VERSKAF

Só sê Nelmarié de Lange van Polokwane oor haar man, konst. Pieter de Lange (30), wat in November terwyl hy aan diens was koelbloedig vermoor is.

“Ek is nog steeds sonder my man. Ons drie kinders mis hom ontsettend baie,” sê Nelmarié.

Die Valke in Limpopo het Vrydagaand in samewerking met die polisie ’n 31-jarige man weens De Lange se moord in hegtenis geneem.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke in Limpopo, sê die man is in ’n huis in Seshego buite Polokwane in hegtenis geneem.

Daar is op ’n ongelisensieerde vuurwapen en ’n vermoedelik gesteelde voertuig by die man beslag gelê.

De Lange was ’n lid van die Westenburg-polisiekantoor. Hy was Donderdagaand 8 November aan diens en het saam met ’n lid van die gemeenskapspolisiëringseenheid vermeende dwelmhandelaars in Bulawayostraat in Ladanna dopgehou.

Mieke de Lange (7) met haar vermoorde pa, konst. Pieter de Lange (30) van Polokwane, se polisiepet op haar kop. Foto: AMORI PHOTOGRAPHY

Die plek is digby ’n staanplek vir trokke wat berug is vir dwelmhandel en ander misdrywe.

Maluleke sê twee motors met ’n onbekende aantal mans het na die motor waarin De Lange was, gery en op hom begin skiet.

Hy is swaar gewond en is op pad na ’n hospitaal dood.

Maluleke sê die polisie het kort ná sy moord op ’n BMW, naby die plek waar De Lange geskiet is, afgekom.

Die motor is glo deur sy vermeende moordenaars gebruik.

“Ek is bly dat die polisie iemand gevang het, nou kan ander mense nie ook seerkry nie,” sê Nelmarié.

De Lange en sy vrou het drie kinders, JJ (11), Christiaan (9) en Mieke (7).

Nelmarié en die drie kinders het kort voor Kersfees foto’s van hulle laat neem ter ere van Pieter. Sy polisiebaadjie en polisiepet is saam met hulle afgeneem.

“Pieter sal altyd deel van ons wees en ek sal hom eer tot die dag wat ek doodgaan,” sê sy.

Die man wat in hegtenis geneem ,sal Maandag in die Seshego-landdroshof op aanklagte van moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen verskyn.

Maluleke sê die soektog na die res van De Lange se moordenaars duur voort.

*Dieselfde taakspan het Saterdag drie verdagtes in Groblersdal in Limpopo in hegtenis geneem weens ’n vlaag huisbrake. Die drie mans sal Maandag in die landdroshof in Groblersdal verskyn.

Christiaan de Lange (9) kyk na 'n foto van sy vermoorde pa, konst. Pieter de Lange (30) van Polokwane. Foto: AMORI PHOTOGRAPHY
Nelmarié de Lange en haar drie kinders, Mieke,Christiaan en JJ met Pieter se polisiebaadjie. Foto: AMORI PHOTOGRAPHY
Konst. Pieter de Lange (30) se polisiebaadjie en pet. Hy is in November in Polokwane doodgeskiet. Foto: VERSKAF
Meer oor:  Polokwane  |  Moord  |  Polisieman  |  Konstabel  |  Arrest
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.