Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vergadering gehou oor sindikate wat afpers

Die eerste vergadering van die bestuurskomitee teen georganiseerde misdaad en sindikate wat ondernemings in Kaapstad afpers, het Vrydag plaasgevind nadat verskeie belanghebbendes druk op Bheki Cele, minister van polisie, geplaas het.

Die Wes-Kaapse regering, die Kaapstad-metro en die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid het in die afgelope weke druk op Cele uitgeoefen om sy ooreenkoms na te kom om sindikate te bestry wat ondernemings in die stad deur afpersing uitbuit.

Cele het hom in September daartoe verbind om ’n multidissiplinêre taakspan saam te stel om die probleem te pak.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap. Foto: Argief

In ’n verklaring wat deur Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, uitgereik is, sê hulle hierdie vergadering is ’n tree in die regte rigting en daar is besluit om dit weekliks te hou.

Op Vrydag se vergadering het die polisie hul planne bekend gemaak oor hoe die afpersers vasgevat gaan word en wie dit gaan doen, asook hoeveel hulpbronne aan die projek afgestaan gaan word.

Die polisie het ondernemings, veral dié wat in die stadskom is, gevra om dadelik enige afpersing by hulle aan te meld sodat sterk sake gebou kan word.

Lt.genl. Yolisa Matakata, provinsiale polisiekommissaris, het op ’n vergadering Dinsdag soortgelyke planne bekend gemaak.

Die Wes-Kaapse regering werk saam met die polisie, sowel as ander owerhede om hierdie soort misdrywe stop te sit.

Fritz sê hy is bly oor die vordering wat gemaak word, en het Cele aangemoedig om te verseker dat hierdie komitee weekliks vergader.

Fritz sê alle betrokkenes, soos die polisie, metropolisie, gemeenskapsveiligheidsgroepe en ander owerhede, moet saamwerk. Sy departement sal ook baie nou met die gesondheidsdepartement saamwerk.

Johan Brand, voormalige polisieombudsman, sal ook een van die planne bestuur.

Enigeen wat inligting oor voorvalle van afpersing het, kan 021 466 0011 skakel om dit aan te meld. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Afpersing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.