Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vergeet Chuck Norris: Hier is Leo Prinsloo!

Die man wat met ysere kalmte ’n bende transitorowers uitoorlê het, is saam met sy gesin in ’n beskermingsprogram geplaas nadat hy doodsdreigemente ontvang het.

Die nuwe helde: Leo Prinsloo en Lloyd Mtombeni kort ná die skote op hul Toyota Land Cruiser.

Twee aanlyn video’s van die voorval is al meer as 10 miljoen keer gekyk.

Leo Prinsloo, wat al beskerming aan oudpres. Nelson Mandela, prins Charles en die Kardashians verleen het, was agter die stuur van ’n koeëlvaste Toyota Land Cruiser wat ’n vragvoertuig met selfone op 22 April op die N4 buite Pretoria begelei het.

In die passasiersitplek was sy kollega Lloyd Mtombeni, wat toe maar vier dae in sy pos was, wys die een video.

Prinsloo gewaar iets in sy truspieëltjie. “Hulle kom vir ons. Hulle gaan skiet. Hulle gaan f****n skiet,” sê hy.

Dan klap die skote.

“Dit was die eerste keer dat ek skote gehoor het wat op ons in ’n voertuig geskiet word,” het Mtombeni aan eNCA vertel.

Kolle splinterruit het op die venster aan Prinsloo se kant en die voorruit verskyn.

“Bel vir Josh en Robbie!” het Prinsloo Mtombeni beveel.

Leo Prinsloo op die skietbaan. Foto: The Edge Shooting Academy

Dié kollegas, in ’n ander begeleidingsvoertuig daar naby, het egter nie die oproep gekry nie omdat die rowers blykbaar ’n seinblokkeerder gebruik het.

In die tweede video wys die kamera vorentoe, sodat die kyker voel of hy saam met Prinsloo en Mtombeni in die Land Cruiser is.

Dit wys die voertuig met die selfone is tot stilstand gedwing en drie van die rowers staan by ’n dubbelkajuitbakkie.

Dan sien die kyker hoe Prinsloo die Land Cruiser behendig links van hulle deurstuur. Hy mis die drie rowers rakelings. Hulle spring uit die pad en in hul bakkie en jaag verder. Dan sien ons hoe Prinsloo die bakkie en ’n donker Audi van die pad probeer dwing.

Die Audi het in ’n hotel se parkeerterrein tot stilstand gekom toe Prinsloo oor ’n middelmannetjie ry en toe stop. Hy het ’n semi-outomatiese aanvalsgeweer in die kajuit gegryp en uitgespring, reg om op die aanvallers te vuur.

“Gelukkig vir hulle het hulle weggekom,” het Tas Prospecting getwiet.

Rowers het die ruit aan Leo Prinsloo se kant stukkend geskiet.

Prinsloo (52), ’n voormalige lid van die polisie se taakmag en ervare skerpskutter, het aan eNuus gesê hy dink instink het maar begin werk. “Voor die tyd het ek geweet my voertuig is my wapen en my dekking en ek het gevisualiseer wat ek gaan doen met die voertuig op daai gegewe oomblik. Jy moet verwag sulke goed kan gebeur, want dit berei jou verstand voor vir wat jy moet doen.”

Prinsloo het ná die voorval in verband met ’n komende skietkursus geskryf: “It’s a state of mind. Be able! Be ready! Be competent!”

East Coast Radio in Durban het intussen ’n parodievideo gemaak waarin “Mtombeni” so kalm is dat hy homself regdeur die voorval met ’n Rubik-kubus en slangetjies-en-leertjies besig hou en ook ’n kaarttruuk met Prinsloo doen.

Op Twitter het iemand in reaksie op die regte video geskryf: “In Suid-Afrika sê jy nie ‘bel die polisie’ nie, jy sê ‘bel Robbie, bel Josh’, want jy weet daai ouens gaan meer doen om jou te help as die polisie.”

Meer oor:  Lloyd Mtombeni  |  Leo Prinsloo  |  Transitorooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.