Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Honde vergiftig: Polisie op spoor van nóg verdagtes

Die polisie is op soek na die medepligtiges van ’n 43-jarige man wat in Florida aan die Gautengse Wes-Rand in hegtenis geneem is in verband met die vergiftiging van honde in dié gebied.

“Die moontlikheid dat die man deel is van ’n groep wat honde vergiftig sodat hulle by huise in die Florida-woonbuurt kan inbreek, word ondersoek,” het sers. Mpho More, polisiewoordvoerder, Dinsdag aan Netwerk24 gesê. Volgens More is die man verlede Woensdag omstreeks 02:45 aangekeer. “Die polisie het vermoedelik gesteelde eiendom, asook toerusting wat algemeen in huisbrake gebruik word, in die man se besit gevind. Hy het ook ’n sakkie met gif by hom gehad,” het More gesê.

Die man het Maandag in die landdroshof in Roodepoort verskyn, maar More wou nie sy naam bekend maak nie. “Die ondersoek is in ’n sensitiewe stadium omdat die moontlikheid dat ander mense aandadig is, bekyk word,” sê More.

honde vergiftig, verdagte
Die verdagte wat onlangs aangekeer is in verband met die vergiftiging van honde aan die Wes-Rand. Foto: Apcan Security Group

Minstens 40 honde is op 31 Julie op een slag in Florida vergiftig in een van die ergste voorvalle van vergiftiging waarmee die Dierebeskermingsvereniging (DBV) aan die Wes-Rand tot nog toe te make gehad het. Inwoners van Janet, May- en Cinderellastraat, asook 6de Laan, se honde is vergiftig. Dit wil voorkom asof vergiftigde grondboontjies gebruik is om die honde, wat almal in die voorste erwe van hul eienaars se huise was, te vergiftig.

Clement Benjamin, ’n inwoner van Janetstraat, se twee liefling-pitbull-terriërs, Milo en Juna, was onder die honde wat vergiftig is.

“Lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum het saam met vrywilligers besluit om die strate in die buurt te patrolleer in die hoop om die boosdoeners vas te trek, maar daar was nog niks verdag sedert die honde vergiftig is nie.”

Benjamin weet nie of hy weer troeteldiere gaan aanskaf nie. “Dit was hartverskeurend toe my honde dood is. Hulle was soos kinders vir my.” Benjamin maan inwoners om ten alle tye versigtig te wees, nie hul honde voor in hul erwe alleen te laat nie en om enige verdagte voorvalle, wat die vergiftiging van honde insluit, dadelik by die polisie aan te meld.

“Misdaadsindikate gebruik al jare die verbode middel Aldicarb om waghonde vrek te maak voordat hulle by huise of motors inbreek. Dit word selfs in plaasaanvalle gebruik,” sê dr. Gerhard Verdoorn, direkteur by die Griffon-gifinligtingsentrum.

“Voor die verbanning van Aldicarb ’n paar jaar gelede was dit onder die handelsname Temik en Sanacarb in ’n korrelformulering beskikbaar. Dié gif is deur handelaars aan die mark onttrek en Temik se registrasie is nie ná Mei 2012 deur Bayer CropScience hernu nie.

“Daar is geen wettige en geregistreerde Aldicarb meer in Suid-Afrika beskikbaar nie. Verskillende variasies van dié neuro-toksiese gif word onder name soos ‘Two Step’ op die swartmark verkoop. Dit word so genoem omdat die slagoffer net twee treë gee voordat hy neerslaan. Smouse wat dit op straat verkwansel, weet nie regtig hoe giftig dit is nie en dit opsigself is ’n reuse-risiko,” sê Verdoorn.

“Dit neem ongeveer 20 korrels van ’n Aldicarb-formulering om ’n klein hondjie soos ’n Maltese poedel te vergiftig. Mense wat ’n halwe teelepel inneem, kan tot 20 minute leef, maar sonder onmiddellike mediese ingryping is die prognose baie swak. ’n Kind van tien jaar oud wat 100 mg Aldicarb inneem, het ’n baie skraal kans om te oorleef,” verduidelik Verdoorn.

“Aldicarb is onwettig en word jare al nie meer deur ons verkoop nie,” sê André Broeksma, hoof van produkontwikkeling en -registrasie by Bayer CropScience. “Baie ongeregistreerde formulerings daarvan is onwettig in Suid-Afrika in die omloop. Sommige hiervan lyk soos uitgedrukte silinders terwyl ander die voorkoms van ronde korrels het. Produkte moet volgens die wet oor die nodige aanvaarbare omgewings- en gesondheidsprofiel vir mens en dier beskik voordat dit enigsins toegelaat word,” sê Broeksma.

Cora Bailey, stigter van die organisasie Community Led Animal Welfare (Claw), sê dat sy gereeld gevalle hanteer waar honde vergiftig is. “Twee tot drie gevalle per dag is nie ongewoon nie.

“As ’n hond begin braak en ruk, is dit amper al te laat vir hulp. Die gif word gewoonlik in Weense worsies of maalvleis gesit en oor huise se mure of heinings gegooi. Dit gebeur dikwels in die vroeë oggendure. ’n Uur later is jou honde vrek,” sê Bailey.

Meer oor:  Wes-Rand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.