Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Verhale van ’n grens wat gekaap is

Langs Lesotho is die boere – wit én swart – jare reeds aan hul eie lot oorgelaat. Vra maar vir Daleen van der Hoven, berig Hendrik Hancke.

Die 72-jarige Makwena Thola woon nou in die Matlakeng-township, buite Zastron, en ’n buurman huur sy grensplaas. Foto’s: Deon Raath

Daar is nie meer ’n grens tussen Suid-Afrika en Lesotho nie, sê raadop boere oor ’n grens wat deesdae net op papier bestaan en waaraan veediewe en gewelddadige misdadigers hulle in elk geval jare al nie steur nie.

Van doeltreffende polisiëring is daar geen sprake nie, en boere staan, soos in baie dele van die land, vir hul eie beveiliging pa.

Rapport het die gebied besoek nadat Daleen van der Hoven (80) op die familieplaas Wanatha in die grensgebied aangeval, met ’n ploegtand geslaan, oor die grens geneem en in temperature van -5 °C vir dood gelaat is.

‘Jy kan nie met niks boer nie en dit is wat ek oor het – niks.’

Die misdaad is nie altyd ewe wreedaardig nie, maar dit verlam nietemin die boere wat daar ’n bestaan probeer maak.

Die 73-jarige Makwena Thola was indertyd ’n suksesvolle grensboer naby Zastron, maar sedert 2016 woon hy in die Matlakeng-township nadat “besoekers” van Lesotho sy plaas “leeg gesteel het”.

“Ek ken van boer. Ek boer goed en ek is lief vir die grond en die diere, maar jy kan nie met niks boer nie en dit is wat ek oor het – niks,” het Thola die afgelope week in ’n stowwerige township-straatjie gesê.

“Daar is nie meer ’n grens tussen Suid-Afrika en Lesotho nie.

Hannes Calitz (64) by wat oor is van die grensdraad op die grensplaas wat hy huur sodat dit as buffer tussen sy grond en Lesotho kan dien.

“Die grens is nou tot by ons dorpe, want dis tot waar Lesotho se beeste wei. Die mense kom in die nag deur die grens en dra alles weg. Hulle wag nie vir ’n ander dag nie, hulle vat alles en hulle vat dit nou,” sê Thola.

“In 2016 het die polisie vir my gesê ek moet liewer dorp toe trek, die mense gaan my doodmaak.”

Hy sê van ondersoeke na diefstal en ander misdade op grensplase kom dadels. “Die polisie praat net. Die ondersoeke loop dood. Niemand gaan ooit tronk toe nie.”

Swart en wit boere loop ewe erg deur, sê dié boer, wie se droomplaas en veekudde uitgewis is. “Die wit boere het my mooi gehelp, maar dit kon nie vir altyd aangaan nie. Oor vyf jaar (tot 2016) het ek al my skape verloor. Boere soos Hannes Calitz help waar hulle kan. Hannes het my gehelp met ’n helikopter om my diere te soek, maar teen die tyd wat hulle vlieg, is die diere lankal diep in Lesotho.”

‘Die laaste vier maande verloor ek so drie skape per week.’

Nóg ’n radelose grensboer, Tommie Rautenbach, het jare gelede al besef hy sal self ’n plan moet maak. “Smokkelaars van gesteelde karre het op my grond só gereeld die grensdraad platgery dat ek maar ’n hek ingesit het,” sê Rautenbach (66), wat die verantwoordelikheid aanvaar het om die staat se heining in stand te hou. “Dis koste waarvoor mens nie geld het nie. Jy kan dit weer van die staat terugkry, maar die administratiewe rompslomp is amper erger as die skade.”

Hy sê ’n destydse LUR vir polisie (sy naam is aan Rapport bekend) het die hek met ’n ketting en slot kom sluit. “Hy het gesê hierdie onwettige reise deur my plaas en oor die grens gaan ophou,” sê Rautenbach.

Met Rapport se besoek kon dié stukkend gestampde hek nog oopgemaak word, al was die LUR se slot nog aan ’n hekpaal vasgemaak.

“Dis deur dieselfde hek wat haar ontvoerders vroeg in Julie met tannie Daleen van der Hoven gery het,” sê Rautenbach.

Dié slot is jare gelede deur ’n destydse LUR vir polisie opgesit om te keer dat smokkelaars daar onwettig oor die Suid-Afrikaanse grens beweeg.

Die vrou wat waarskynlik Van der Hoven se lewe gered het, Mathato Nkoro (72), se huisie staan ongeveer 30 m van dié hek. Nkoro het haar oor die erg beseerde Van der Hoven ontferm en hulp ontbied (sien berig hierbo).

“Die smokkelaars los die hek oop. Dan loop my beeste deur die stukkende draad en word geskut. Om hulle terug te kry, moet ek boetes betaal. So, ek betaal vir ander mense se misdade,” sê Rautenbach. Hy het toe maar nóg ’n plan beraam.

“Ek het vir Nkoro gevra om die hek toe te maak as sy hoor die smokkelaars ry deur.”

Hy sê die hek het nie gekeer dat die grensdraad beskadig word nie. “Die smokkelaars ry eenvoudig deur waar hulle wil.

“Ek het toe staalpale (droppers) tussen elke heiningpaal in die grond geslaan. ’n Deel van die paal steek genoeg uit dat ’n voertuig nie daaroor kan ry nie.

‘So, ek betaal vir ander mense se misdade.’

“As jy hom tref bly jy net daar.

“Só channel ek maar die boewe na die hek,” sê Rautenbach en gee ’n wrang laggie.

Calitz (64), een van die boere wat die 73-jarige Thola bygestaan en gehelp het, huur nou Thola se grond. “Ons help mekaar waar ons kan. Ek huur sy grond vir weiding, maar ons het ook konstante verliese aan diefstal,” sê hy. “Ons is in ’n lae-intensiteit-oorlog gewikkel en heeltemal aan ons eie voorsorg en genade oorgelaat.

“Die laaste maand het ons omtrent 70 skape aan oorgrensdiefstalle verloor. Dan praat ek nie eens van die potslagters nie. Die laaste vier maande verloor ek so drie skape per week aan hulle.

“Mense en hul kinders is honger. Dié soort diefstal reken mens in as bedryfsonkoste, maar ouens wat vir eie gewin steel is ’n ander storie.”

Die grensboer Tommie Rautenbach. Smokkelaars het só gereeld sy heining platgery om gesteelde voertuie na Lesotho te neem, dat hy maar ’n hek ingesit het.

Calitz het Rapport na sy huurgrond langs die grens geneem.

Skaars 50 m van die Sepapu se Hek-grenspos hou die grensdraad vir ongeveer 5 km op. Toegang tot sy huurgrond word verleen deur ’n draadkonsertinahek met houthoekpale – ’n “smoelneuker”, soos die ou mense dit genoem het. “Ek kan nie meer gewone hekke hier insit nie. Die mense dra die staal weg.”

’n Tweespoor-veldpaadjie kronkel deur die plaas. Plek-plek is klippe in die paadjie gepak.

“Hulle pak die klippe om tyd te koop sodat hulle gou hul vee kan terugjaag as ek aangery kom, maar ek ry met my bakkie om die klippe,” sê Calitz.

“Nou het ek ’n buffer tussen my grond en die grens. Ek beskerm só my grond, maar dit beteken die Lesotho-grens het geskuif.”

* Lees ook hier

Dr. Jane Buys, ’n veiligheidsrisiko-analis by Vrystaat Landbou, sê die meeste boere dien nie eens meer klagte oor diefstal en gewone saakbeskadiging in nie. “Ons kan uit die sake wat wel ingedien is sien daar is ’n ernstige probleem in die Oos-Vrystaat,” sê Buys.

Volgens haar sluit die 13 dorpe op die grens van Suid-Afrika en Lesotho vyf polisiekantore in QwaQwa in. “In die tydperk van 1 April tot 30 Junie vanjaar, wat basies ons land se streng inperking insluit, het hierdie polisiekantore 172 uit 849 sake van veediefstal in die Vrystaat aangemeld. Dit is dus 20%, of ’n vyfde, van al die veediefstalsake in die provinsie.”

Buys sê die grootste toename was in die gebied van Clarens, Vanstadensrus en Zastron. “In die omgewing van Hobhouse, Vanstadensrus en Zastron was daar ook die afgelope ses weke meer as 20 veldbrande, wat kwaadwillig gestig is en deur die boere self geblus moes word.”

Thami Mchunu, woordvoerder van die departement van openbare werke, het Vrydag aan Rapport gesê hy is besig om inligting in te win.

“Die persoon wat met grenskwessies werk is met verlof. Ons sal eers teen Maandag kommentaar kan lewer.”

Meer oor:  Daleen Van Der Hoven  |  Lesotho  |  Zastron  |  Boere  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.