Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Verkeersman en 2 ander vas oor kapings en rooftogte

Drie mans, onder wie ’n plaaslike verkeersbeampte, is in Kuruman in die Noord-Kaap ná ’n lang soektog en ondersoeke na sake van onder meer motorkaping, huisroof en roof in hegtenis geneem.

Die polisie in Kuruman in die Noord-Kaap het beslag gelê op dié motor en nog twee vermoedelik gekaapte voertuie toe hulle drie mans in hegtenis geneem het. Foto: Verskaf

Die mans, onderskeidelik 25, 27 en 30 jaar oud, is Dinsdag in Seoding, naby Kuruman, in hegtenis geneem nadat die polisie inligting ontvang het.

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die mans se inhegtenisneming kom ná ’n lang soektog en ondersoek na onopgeloste sake die afgelope twee jaar in die John Taolo Gaetsewe-polisiëringsgebied.

Dié sake sluit in motorkaping, huisroof, roof en inbraak. Polisietoerusting is gebruik om die misdade te pleeg.

Die 30-jarige verdagte is ’n verkeersbeampte by die Ga-Segonyana-munisipaliteit in Kuruman.

Een van die drie vermoedelik gekaapte voertuie waarop die polisie tydens die inhegtenisnemings beslag gelê het, is glo by sy huis gevind.

Die drie voertuie, ’n Mazda 3, Lexus en ’n Honda-sportnutsvoertuig, het vervalste nommerplate gehad en is na bewering tussen Desember verlede en Januarie vanjaar in Mahikeng, Noordwes, gekaap.

Volgens Tawana het die polisie ook ’n polisie-glimbaadjie, ammunisie vir verskeie vuurwapens, ’n blou lig en ’n gereedskapskis in die mans se huise gevind.

Die mans het na bewering tydens die kapings die blou lig en polisie-glimbaadjie gebruik om hulle as polisiebeamptes voor te doen.

Een van die vermoedelik gekaapte voertuie waarop die polisie beslag gelê het. Foto: Verskaf

Hulle word ook na bewering verbind met ’n inbraak in September verlede jaar by die Ga-Segonyana-munisipaliteit toe toerusting, waaronder die blou lig, gesteel is.

Dié vermoedelik gekaapte Lexus is gevind toe die polisie drie mans in Kuruman aangekeer het. Foto: Verskaf

“Ons gaan ons ondersoek uitbrei om die verdagtes met verskeie onopgeloste sake in die provinsie te verbind, maar veral sake in die John Taolo Gaetsewe-polisiëringsgebied, en ook om vas te stel waar die polisie-glimbaadjie en ammunisie vandaan kom,” sê Tawana.

Die mans sal na verwagting Donderdag op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde voertuie en die onwettige besit van ammunisie in die hof verskyn.

Genl.maj. Kolisa Otola, waarnemende polisiehoof in die Noord-Kaap, het die lede van die trio-taakspan van die John Taolo Gaetsewe-polisiëringsgebied, die openbare orde-eenheid van Kuruman sowel as al die rolspelers wat hard gewerk het om te verseker dat die verdagtes aangekeer word, lof toegeswaai en bedank.

* Die polisie het ook ’n beroep gedoen op enige slagoffers van die mans om kapt. Victor Mabena by 063 691 1089 of 087 630 1002 te bel.

Meer oor:  Kuruman  |  Rooftogte  |  Verkeersman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.