Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Verkoolde lyke dié van vermiste egpaar

Die identiteit van die twee erg verkoolde lyke wat op 13 Julie op die oewer van die Vaalrivier tussen Vanderbijlpark en Vereeniging gekry is, was dié van Willem (61) en Isa Swart (65).

’n Verbyganger het die twee verkoolde lyke langs die rivier by Spider Valley sien lê en die polisie ontbied.

Kapt. Fikile Funda, woordvoerder van die polisie in Vereeniging, het Woensdag gesê die polisie het DNS-toetse op die twee lyke gedoen en vandeesweek die uitslag gekry.

“Dit is beslis Willem en Isa Swart,” het Funda gesê.

Die egpaar het in Henrystraat, Risiville, Vereeniging, gewoon. Hulle is op Woensdag 12 Julie as vermis aangegee.

Willem en Isa het kort voor hul verdwyning van ’n vakansie in Nelspruit, Mpumalanga, teruggekeer. Hulle is ná hul terugkeer nooit weer gesien nie.

Die polisie het Isa se motor ná hul verdwyning verlate by die Vereeniging-spoorwegstasie gekry.

Die plaaslike koerant Courier het vroeër berig die polisie het naasbestaandes van die egpaar opgespoor. Een van die familielede het sowat twee weke ná hul verdwyning dakteëls van hul huis verwyder en deur die plafon toegang tot die huis gekry.

Die egpaar se tasse het onoopgemaak in die voorportaal gestaan en daar is bloedspore in die motorhuis gekry.

Daar was geen teken dat die moordenaar gedwonge toegang tot die huis verkry het nie.

Dit het die polisie laat vermoed die egpaar is moontlik in hul huis vermoor en hul lyke is toe langs die rivier afgelaai waar dit aan die brand gesteek is.

Willem was ’n werknemer van Vanderbijlpark Hydraulics & Engineering. Isa was ’n tuisteskepper.

Die egpaar het twee kinders, een elk uit vorige huwelike. Hul een seun woon in Singapoer.

Funa het gesê die polisie volg alle leidrade op om die moordenaars te probeer opspoor.

Meer oor:  Vermis  |  Gruvonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.