Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou verkrag: Gebruik my naam, ek wil boodskap oordra
Chris Joubert (62) en sy vrou, Leonise (61), is op ’n plaas in Limpopo aangeval. Foto: Verskaf

“Almal is moeg vir die aaklige geweld in ons land. Dit móét stop.”

Dit is die boodskap van Leonise Joubert (61), die boervrou van Limpopo wat Woensdag gedurende ’n plaasaanval verkrag en geskiet is.

Joubert het toestemming aan Netwerk24 gegee om haar te identifiseer omdat sy “wyd en syd” ’n boodskap van hoop wil versprei dat wat met haar en haar man, Chris (62), gebeur het, hulle nie sal breek nie.

Joubert is in haar regterbeen geskiet en moes ’n operasie in die Mediclinic Limpopo in Polokwane ondergaan. Chris is ernstig aangerand en met draad aan ’n stoel vasgebind.

Chris se bejaarde ma, Betsie Joubert (98), was ook in die plaashuis toe drie mans vroeg Woensdagoggend by ’n venster ingebreek het. Sy is fisiek ongedeerd.

Honderde boere het Vrydagoggend in hul bakkies van verskeie dorpe in Limpopo, soos Tzaneen, Modimolle, Vivo, Alldays, Louis Trichardt en Polokwane na die landdroshof in Morebeng (Soekmekaar) opgeruk.

Plakkate met slagspreuke van “Stop plaasaanvalle”, “Gatvol” en “Boerelewens maak saak” is aan bakkies vasgemaak.

’n Video wat uit ’n helikopter geneem is, wys hoe die konvooi bakkies vir kilometers na die landdroshof kronkel.

Boere het Vrydag opgeruk na die landdroshof in Morebeng in Limpopo waar vermeende plaasaanvallers verskyn het. Foto: Verskaf

Carien Hartman, ’n dogter van die Jouberts, sê dit beteken vir die familie baie dat mense saamstaan en protes aanteken teen plaasaanvalle.

“My ouers wil nie enigsins hê dat haat verkondig word nie, dan was alles sinneloos . . . Ons wil glad nie hê dat hierdie in rassehaat ontaard nie,” sê Hartman.

Die plaashuis van die Jouberts in die Dendron-distrik is vol bloedplasse en omgekeerde meubels soos die aanvallers dit geplunder het.

My ouers wil nie enigsins hê dat haat verkondig word nie, dan was alles sinneloos . . . Ons wil glad nie hê dat hierdie in rassehaat ontaard nie.

Lede van die Limpopo- Landelike Veiligheidsforum en TLU SA was deel van die betogers. Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, was ook by die hof en sê daar was honderde bakkies by die hof. Hy en Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, het weer die provinsiale regering gevra dat landelike veiligheid opgeskerp moet word.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê een van die drie mans wat by die aanval betrokke was, is in ’n hospitaal in Polokwane dood nadat hy in ’n oor-en-weer-skietery met die polisie gewond is.

Chris (62) en Leonise (61) Joubert van Dendron in Limpopo. Foto: Verskaf

Die plaasaanvallers het in ’n wit Nissan Navara met twee jaggewere en ’n platskerm-TV van die plaas gevlug.

Die polisie het hulle in ’n hoëspoedjaagtog Woensdagoggend in Polokwane in hegtenis geneem.

Daar is ook op vyf pistole, ammunisie en gesteelde goedere beslag gelê.

Die twee mans het op aanklagte van poging tot moord, verkragting, gewapende huisroof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en die besit van gesteelde goedere in die landdroshof in Morebeng verskyn.

Hulle mag nie geïdentifiseer word voordat hulle op die aanklag van verkragting teen hulle gepleit het nie.

Mojapelo sê hulle sal volgende Vrydag weer in die landdroshof verskyn.

Boere van Limpopo het Vrydag teen plaasaanvalle by die landdroshof in Morebeng betoog. Foto: Verskaf
Lindi Otto, Corlise van der Walt, Tanya Raadt en Nanette Geerdts betoog voor die landdroshof in Morebeng. Foto: Verskaf
Bebloede papiere in die plaashuis in die Dendron-distrik in Limpopo. Foto: SPS High Risk Unit
Boere het Vrydag by die landdroshof in Morebeng in Limpopo saamgekom om teen plaasaanvalle te betoog. Foto: Verskaf

Meer oor:  Leonise Joubert  |  Dendron
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.