Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermeende bendelede 'kry lisensies as sportskuts’

’n Skuiwergat in die vuurwapenwet het die vermeende leier van die 28-bende op die Kaapse Vlakte, sy vrou en sy suster na bewering in staat gestel om vuurwapenlisensies en bevoegdheidsertifikate vir vuurwapens van verskeie kalibers te kry.

Ralph Stanfield (41), na bewering die leier van die 28-bende in Beacon Valley, Mitchells Plain, en Valhalla Park op die Kaapse Vlakte, en sy vrou, Nicole (34), en sy suster Francisca Stanfield (46) het glo met hul aansoek met toegewyde sportskutstatus daarin geslaag om 11 verskillende vuurwapens tussen hulle te besit.

Stanfield, Nicole, Francisca en 19 ander mense staan tans in die prioriteitshof tereg op 109 aanklagte wat met dié beweerde onwettige verkryging van vuurwapenlisensies verband hou.

Die prioriteitshof in Khayelitsha is vir die duur van die verhoor na die streekhof in Kaapstad verskuif.

Ingevolge die gewysigde klagstaat is daar onder die toegewyde sportskutstatus geen beperking op die aantal vuurwapens wat ’n persoon mag besit nie. Daar is ook geen beperking op die hoeveelheid ammunisie wat ’n persoon mag besit nie.

Maar volgens die staat was hierdie aansoeke vervals en moes Stanfield, Nicole en Francisca nooit die bevoegdheidsertifikate en vuurwapenlisensies gekry het nie.

Ralph Stanfield en sy vrou, Nicole, in 2014 met een van hul hofverskynings. Foto: Nasief Manie

Die staat voer aan dat hulle die gewese polisielid Billy April (43) en twee voormalige polisieklerke, Mehloti Manganye (44) en Mary-Gail Cartwright (39), sowat R10 000 betaal het om vervalste inligting, soos dat Stanfield-hulle in Gauteng woon en werk en die vereiste bevoegdheidstoetse afgelê het, op polisiestelsels, onder meer die polisie se SAPS 86-register, in te vul. Dit het hulle glo gedoen in samewerking met die vuurwapenlisensie-offisier wat destyds in die Olifantsfontein-polisiekantoor werksaam was.

April, Manganye en Cartwright het by die polisie se sentrale vuurwapenregistrasie-eenheid in Pretoria gewerk.

Luidens die klagstaat staan Stanfield, Nicole, Francisca, April, Manganye, Cartwright, twee van Stanfield se broers, nog twee van sy susters, ’n neef, nog vermeende 28-bendelede en ander wat by hulle betrek word op altesaam 109 aanklagte tereg ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca), bedrog, korrupsie, vervalsing van vuurwapenlisensies, asook die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Die saak teen die 22 beskuldigdes is Maandag tot 17 Augustus uitgestel.

Volgens die staat is die ander beskuldigdes, behalwe die drie gewese polisielede, óf lid van ’n misdaadbende (die 28’s) óf daarby betrokke.

Ralph Stanfield

Stanfield staan op 84 aanklagte tereg.

Dit sluit in onder meer aanklagte ingevolge die Poca, aanklagte van bedrog wat verband hou met die voorkoming en bestryding van korrupte aktiwiteite, aanklagte van korrupsie, een aanklag wat verband hou met sy beweerde vervalste aansoek vir ’n bevoegdheidsertifikaat, twee aanklagte dat hy valse inligting in sy aansoeke vir bevoegdheidsertifikate verskaf het, twee aanklagte wat verband hou met die Wet op Oproerige Byeenkomste en dat hulle saamgesweer het om bedrog en korrupsie te pleeg, ’n aanklag van vervalsing en uitgifte, aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en van ammunisie en een aanklag wat verband hou met die verkryging, besit of gebruik van inkomste wat uit ’n onwettige inkomste soos vervat in die Poca verkry is.

Volgens die staat het Stanfield op vier vorige geleenthede – 28 Maart 2000, 1 Maart 2002, 27 Mei 2002 en 13 April 2006 – by die Mitchells Plain-polisie vir ’n bevoegdheidsertifikaat en vuurwapenlisensies aansoek gedoen. Die aansoeke is al vier keer afgekeur.

Maar in 2014 verander sake vir Stanfield en word een van sy aansoeke, binne ’n paar minute nadat dit ingedien is, in die Olifantsfontein-polisiekantoor in Gauteng goedgekeur.

Drie van die vier aansoeke is op 17 Februarie 2014 by die polisiekantoor ingedien, en 14 dae later, op Maandag 3 Maart, is dié aansoeke goedgekeur. Die eerste is om 13:38, die tweede om 13:40 en die derde om 13:43 goedgekeur.

Een aansoek is reeds ’n maand tevore op 21 Januarie 2014 ingedien. Dié aansoek is ook op 3 Maart 2014 goedgekeur.

Die aansoeke vir lisensies was vir onder meer ’n .308-Winchester-jaggeweer en twee .45-ACP-pistole (Glock en Heckler & Koch).

Die tipe vuurwapen vir die aansoek wat op 21 Januarie ingedien is, is nie bekend nie.

Dit is egter nie waar dit eindig nie.

Nicole en Francisca Stanfield

Drie vuurwapenlisensies wat Nicole Stanfield by dieselfde polisiekantoor, Olifantsfontein, ingedien het, is ook enkele dae later goedgekeur.

Die eerste aansoek was op 21 Januarie 2014 en dis op 12 Februarie 2014 goedgekeur.

Nicole se twee ander aansoeke is op 17 Februarie ingedien. Dit is op die oggend van 26 Februarie om 09:01 en 09:06 goedgekeur.

Dié vuurwapenlisensies is vir ’n .40-S&W-pistool (Glock) en ’n .380-pistool (Smith & Wesson).

Drie aansoeke vir vuurwapenlisensies vir Francisca Stanfield is ook by die Olifantsfontein-polisiekantoor goedgekeur. Francisca se aansoeke is op 21 Januarie 2014 en 17 Februarie 2014 by die polisiekantoor ingedien.

Die aansoek wat op 21 Januarie 2014 ingedien is, is op 10 Maart goedgekeur. Haar tweede aansoek, die een van 17 Februarie 2014, is op 18 Maart goedgekeur.

Die aansoeke op 17 Februarie was vir twee .45-ACP-pistole (Glocks).

Afkeuring van aansoeke

Dokumente in Netwerk24 se besit wys egter dat minstens vyf vorige aansoeke van Stanfield en minstens twee vorige aansoeke van Francisca vir vuurwapenlisensies deur die polisie afgekeur is. Al dié aansoeke is in die Wes-Kaap ingedien.

In Maart 2000 het Stanfield by die Mitchells Plain-polisiekantoor aansoek gedoen vir ’n lisensie vir ’n 9 mm-Parabellum-pistool. Dit is afgekeur.

In Februarie 2001 doen hy weer aansoek by dieselfde polisiekantoor vir ’n lisensie vir ’n 9 mm-Parabellum. Dit is weer afgekeur.

Stanfield bring daarna in 2002 twee aansoeke by die Elsiesrivier-polisiekantoor vir lisensies vir ’n 9 mm-Parabellum. Albei die aansoeke word afgekeur.

Hy bring in April 2006 weer ’n aansoek by die Mitchells Plain-polisiekantoor, dié keer vir ’n .40-S&W-pistool (Smith & Wesson). Ook dié aansoek is afgekeur.

Francisca het in Oktober 2006 ook ’n aansoek by die Mitchells Plain-polisiekantoor vir ’n vuurwapenlisensie vir ’n 9 mm-Parabellum ingedien. Die aansoek is in Desember daardie jaar afgekeur.

Stanfield, Johnson, Francisca, April, Manganye en Cartwright is in Junie 2014 in onderskeidelik Kaapstad en Pretoria in hegtenis geneem.

Die hofsaak spruit uit ’n ondersoek deur speurders verbonde aan Operasie Combat oor die goedkeuring van Stanfield se vuurwapenlisensies.

2014

In 2014 is berig dat Stanfield se aansoeke vir lisensies vir die vuurwapens wat op sy naam geregistreer is, by die Olifantsfontein-polisiekantoor in Midrand in Gauteng ingedien is. En dat Stanfield, wat toe nog in Melkbosstrand gewoon het, gereeld vir “sake” na Johannesburg gereis het.

Die adres op Stanfield se aansoeke was dié van ’n familielid in Craigavon, Fourways, in Johannesburg. Die polisiekantoor naaste aan dié adres is die Douglasdale-polisiekantoor – sowat 30 km van die Olifantsfontein-polisiekantoor af.

Meer oor:  Ralph Stanfield  |  Vuurwapenwet  |  Lisensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.