’n Vermeende leier van die American-bende, wat in Bonteheuwel bedrywig is, is in hegtenis geneem vir poging tot moord nadat hy glo ’n gemeenskapslid geskiet het.
Luidens ’n polisieverklaring het die 30-jarige man glo Sondag om 20:30 losgebrand op ’n 35-jarige man wat saam met vriende by ’n huis in Stockstraat, Kalksteenfontein was.
“ ’n Wit Nissan-voertuig het sonder enige waarskuwing opgedaag en geweerskote is in hul rigting afgevuur,” lui ’n verklaring van die polisie in Bishop Lavis.
Die verdagte se naam is bekend aan die ondersoekbeampte en die polisie het hom gaan soek. Hy is Maandag in hegtenis geneem.
“Die slagoffer het ’n skietwond aan die regterskouer opgedoen en is na ’n nabygeleë hospitaal vervoer vir mediese hulp. Die motief vir die aanval is bendeverwant,” sê die polisie.
“Die verdagte se naam is bekend aan die ondersoekbeampte en die polisie het hom gaan soek. Hy is Maandag in hegtenis geneem.”
Charles Esau, raadslid vir die Kaapstad-metro in Kalksteenfontein, sê die voorval is die eerste in ’n geruime tyd in die gebied.
“Op ’n tyd is Kalksteenfontein verklaar as ’n gevaarlike, rooi vlag-gebied. Dinge het onlangs baie verbeter, maar hierdie voorval verander sake.”
Hy het plaaslike inwoners aangeraai om versigtig te wees en enige verdagte aktiwiteit by die polisie aan te meld.
Die vermeende bendeleier sal in die hof verskyn sodra hy aangekla is.