Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermeende bendelid vas ná polisiebeampte se flink optrede

’n Polisiebeampte van Port Elizabeth in die Oos-Kaap wat nie aan diens was nie se flink optrede het Dinsdag gelei tot die inhegtenisneming van ’n vermeende bendelid.

Die 37-jarige polisiekonstabel het Dinsdagaand om 22:00 by ’n vriend in Glendinningstraat gekuier toe hy skote hoor klap.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die beampte het in sy private voertuig geklim en in die rigting begin ry van waar die skote weerklink het.

’n Man het skielik in Glendinningstraat voor die polisiebeampte se motor ingespring en skote op hom afgevuur.

“Die polisiebeampte het agteruit gery en versterkings ingeroep,” sê Naidu.

“Lede van die Gelvandale-polisiekantoor, die blitspatrollie en die polisie se eenheid teen bendes was binne minute op die toneel.”

Aldus Naidu is ’n 25-jarige man by die woonstelblokke in Glendinningstraat in hegtenis geneem. Die verdagte het na bewering skote op die polisie gevuur terwyl hy probeer vlug het.

Daar is ná die inhegtenisneming op ’n 9 mm-pistool beslag gelê. Dié pistool is in Julie verlede jaar in die Mountweg-omgewing gesteel.

Die verdagte is op klagte van poging tot moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem.

Hy sal na verwagting Vrydag in die Gelvandale-hof verskyn.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse polisiekommissaris, het die betrokke polisiebeampte geprys vir sy toewyding tot sy werk.

* Dieselfde aand omstreeks 19:00 het nog skote in Glendinningstraat weergalm toe bendelede van opponerende bendes op mekaar losgebrand het.

’n 26-jarige verdagte van een van die groepe is in die rug gewond en ’n klag van poging tot moord word ondersoek.

Volgens Naidu gaan die Valke in die Oos-Kaap ondersoek instel om te kan bepaal of die twee skietvoorvalle verband hou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.