Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermeende inbrekers vas ná brassery in huis se kroeg

Twee vermeende inbrekers wat glo ’n nag van brassery om ’n huis se kroegtoonbank deurgebring het, is Donderdagoggend in hegtenis geneem.

Die eienaar van die huis en sy gesin was uitstedig en die vermeende inbrekers het hulself glo aan die duur drank in die huis in Dan Pienaar in Bloemfontein, gehelp.

Polisiebeamptes neem Donderdagoggend inventaris van gesteelde goedere wat teruggevind is. Foto: Mlungisi Louw

Die twee mans, onderskeidelik 33 en 34 jaar oud en van Bergman Square, was glo onder die invloed van drank toe die polisie hulle omstreeks 05:30 aangekeer het.

Brig. Maehla Mahloko Lento, bevelvoerder van die Parkweg-polisiekantoor, het gesê die polisie was besig met ’n operasie in Happy Valley, wat ’n brandpunt in die gebied is, toe die twee mans met verskeie sportsakke gewaar is.

Hulle wou net in ’n taxi klim toe die polisie hulle voorgekeer en deursoek het.

Die mans het erken dat hulle die vorige dag omstreeks 18:00 by ’n huis in Harry Smithstraat ingebreek het.

Lt.genl. Moeketsi Sempe, provinsiale polisiehoof in die Vrystaat, staan Donderdag op die toneel tussen die gesteelde goedere wat polisiebeamptes teruggevind het. Foto: Mlungisi Louw
Van die gesteelde goedere staan Donderdagoggend voor die huis in Dan Pienaar in Bloemfontein waar die inbraak was. Foto: Mlungisi Louw

Volgens lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, het die mans glo oor die heining geklim en ’n venster agter die huis gebreek om toegang tot die huis te kry.

“Die mans het hulle geniet en glo selfs van die duur drank in die huis se kroeg gedrink. Hulle het na bewering ’n TV-stel, ’n musiektoestel, alkohol en kruideniersware gesteel.”

Volgens hom het die mans na bewering die goedere wat hulle nie kon dra nie, buite die huis weggesteek sodat hulle dit later kon gaan haal.

Die vermoede bestaan dat die inbrekers die huis dopgehou het voordat hulle ingebreek het.

Die mans sal na verwagting Vrydag op aanklagte van die besit van vermoedelike gesteelde eiendom en huisbraak en diefstal in die hof verskyn.

Meer oor:  Lt.Kol. Thabo Covane  |  Bloemfontein  |  Brassery  |  Drank  |  Inbrekers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.