Drie vermeende motorkapers is Donderdag deur twee polisiemanne wat van diens af was, aangekeer.
Die polisiemanne het die verdagtes agternagesit nadat ’n man omstreeks 07:30 voor sy huis in Illovu B-seksie in KwaMakhutha in KwaZulu-Natal van sy selfoon en horlosie beroof is en die rowers weggejaag het met sy bakkie.

Drie vermeende motorkapers is in hegtenis geneem nadat ’n skietgeveg met die polisie ontstaan het. Foto: Verskaf
Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê dié man het dadelik een van die polisiebeamptes gebel vir hulp.
“Die polisiebeampte wat van diens af was, het in sy voertuig geklim en sy kollega in KwaMakhutha gaan oplaai,” sê Gwala.
Gwala sê terwyl die twee polisiebeamptes rondgery het, het hulle die gekaapte bakkie gesien ry in die rigting van Amanzimtoti.
“Hulle het dadelik vir bystand gevra en terwyl ander eenhede in die omgewing gereageer het, het hulle die bakkie agternagesit.
“Die bakkie is in Blaze-rylaan gestop en ’n skietgeveg het ontstaan. Die drie verdagtes is gewond en die polisie het beslag gelê op die slagoffer se selfoon en horlosie en ’n ongelisensieerde vuurwapen. Die verdagtes is na ’n nabygeleë hospitaal geneem.”
Gwala sê die verdagtes verskyn binnekort in die hof op aanklagte van motorkaping, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, poging tot moord en die besit van gesteelde goedere.