Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermeende plaasaanvaller probeer homself skiet toe hy gevang word

Die man wat glo Vrydagoggend drie skote op Magdaleen Brits (73), ’n boervrou van Verkykerskop, geskiet het, het hom laatmiddag self probeer skiet toe boere hom aankeer.

Jan van Niekerk, ’n boer van Verkykerskop en die Vrystaatse leier van die VF Plus, sê Oos-Vrystaatse boere, veiligheidsmaatskappye en die polisie het Vrydag ure lank na vyf aanvallers gesoek nadat Brits in haar huis aangeval is.

Die aanvallers het gewag tot Peet Brits (76), Magdaleen se man, dorp toe ry voordat hulle toegeslaan het.

Die bende het omstreeks 11:00 die plaaswerkers oorrompel, aangerand en vasgebind voordat hulle probeer het om Brits in die plaashuis aan te val.

Die kampvuur van vier van die vermeende plaasaanvallers het Vrydagmiddag nog gesmeul.

“Ek het met tannie Magdaleen oor die foon gepraat toe hulle drie skote van buite op haar skiet. Die skote het skaars 30 cm van haar teen ’n deurkosyn en ’n houtkas vasgeslaan,” sê Van Niekerk.

Die bende het met ’n breekyster en tang die diefwering probeer oopbreek terwyl Brits plat op die vloer gesit het.

“Sy het die afgelope week ’n groot operasie ondergaan. Sy was seker maar senuagtig en het gesukkel om ’n vuurwapen oorgehaal te kry.”

In dié beskutte stukkie veld het vier mans glo uitgekamp om die plaaswerf van ’n buurplaas af dop te hou.
Een van die vyf Mosambiekers wat Vrydag gevang is ná ’n mislukte plaasaanval.

Van Niekerk sê in ’n stadium het die aanvallers glo selfs een van die plaaswerkers gaan haal om Brits te probeer oortuig om die huis oop te sluit.

Boere uit die omgewing het hulle intussen na die plaas Karkloof gehaas en die aanvallers het die hasepad gekies.

Helikopters is ingespan om na hulle te soek terwyl talle boere, polisielede en veiligheidswagte die gebied gefynkam het.

Van Niekerk sê een man het in ’n doringbos weggekruip.

“Ons het naby hom verbygeloop. Hulle het oral geskuil en gewag dat die helikopters padgee,” sê hy.

Kort nadat die helikopters teen omstreeks 17:00 weg is en die soektog afgelas is, het ’n boer vyf mense met rugsakke deur sy veld sien loop.

Van Niekerk en nog mense het hulle soontoe gehaas.

Die toneel by Verkykerskop waar boere en veiligheidswagte vyf plaasaanvallers gevang het.

Van Niekerk, wat te voet was, het eerste op een van die mans afgekom.

Dié man, die enigste een wat gewapen was, het sy vuurwapen op Van Niekerk gerig.

Nog ’n boer het opgedaag en die man het homself toe drie keer probeer skiet, maar die vuurwapen het geweier.

Die vyf mans is in die veld in hegtenis geneem.

Van Niekerk se broer, Bertie, wat reg langs die Brits-egpaar boer, het gister op die kampplek afgekom waar vier van die mans glo hul verkenningswerk op die Britse se opstal gedoen het.

Bertie sê die mans het drie dae in sy veld gebly en kon die buurplaas se werf mooi dophou.

Al vyf die mans is Mosambiekers wat van Secunda gekom het en het glo Vrydagaand heelwat bekentenisse gemaak.

’n Voormalige plaaswerker was blykbaar die informant en was ook Vrydag op die plaas.

Die gewapende man het eers Vrydagoggend op die plaas opgedaag en het selfs ’n ent saam met die plaaslike skoolbus gery om die plaas te bereik.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het bevestig die mans is almal buitelanders en sê ’n vuurwapen, ammunisie, ’n tang, en ’n breekyster is in hul besit gevind. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.

Meer oor:  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.