Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermeende rower met mes kom vir man . . . toe skiet hy

“Ek het besef dis ek of hy; en ek het gedink ek gaan dood.”

Dít het deur ’n 32-jarige ingenieur se gedagtes geflits toe hy Dinsdag ’n vermeende rower naby die wandellaan in Potchefstroom geskiet het. Die verdagte is in die bolyf gewond en word nou onder polisiebewaking in die Potchefstroomse hospitaal verpleeg, sê lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes.

Die ingenieur se vriendin het Donderdag gesê hulle wil nie sy naam genoem hê of foto’s van hom laat publiseer nie omdat twee van die drie rowers wat hom aangeval het, nog op vrye voet is. “Ons is bang hy word weer geteiken.”

Funani sê die polisie is warm op die spoor van die ander twee vermeende aanvallers.

Die vriendin, wat in Potchefstroom woon, het Donderdag vertel haar vriend het hier gekuier. Hy is nog te getraumatiseer om self oor die gebeure te praat. Die man, ’n Pretorianer, ken Potchefstroom nie goed nie en het blykbaar nie besef die wandellaan in die middestad is berug vir misdrywe wat dikwels met geweld gepaardgaan nie.

Volgens die vriendin het hy Dinsdagoggend van die Bult-omgewing na die middestad gedraf.

“Hy draf baie en hou sy pistool by hom. Ek het nog Dinsdag gesê hy moet maar die pistool los, want dis ongemaklik om daarmee te draf. Hy druk dit altyd in sy broek agter by sy heup. Gelukkig het hy nie na my geluister nie.”

Die man het kwotasies vir drukwerk by verskeie plekke in die stad gekry voordat hy teruggedraf het huis toe. Hy het dadelik onraad vermoed toe ’n man hom groet by ’n kruising by ’n ingang na die wandellaan.

“Hy het verder gedraf en nog ’n keer agtertoe gekyk,” vertel die vriendin. “Toe hy weer voor hom kyk, was ’n tweede rower reg voor hom. Die rower het niks gesê nie, maar met ’n mes na hom gesteek. Hy het aanhou steek, omtrent vyf keer. My vriend was nie eens seker of hy raakgesteek is nie. Die engeltjies het hom bewaar, want die mes het deur sy hemp gesny, maar hom nie geraak nie.”

Die ingenieur het terugbeweeg en geval.

“Hy het gedink hy gaan dood toe hy val,” vertel die vriendin. “Met dié het hy sy selfoon wat in sy hand was, van hom weggegooi sodat die rowers dit kan vat en hom los. Die volgende oomblik het die eerste twee rowers en ’n derde rower weer in sy rigting beweeg. Almal het messe gehad. My vriend het sy pistool gevat en geskiet.”

Die aanvaller het onmiddellik neergeslaan en sy ander twee makkers het dadelik weggehardloop. Die skieter het hom ook vinnig uit die voete gemaak.

Volgens die vriendin het die man agterna gesê hy het doelbewus laag geskiet omdat hy nie omstanders wou tref nie. “Hy het glad nie gemik om iemand te tref nie.”

Die man het ná die aanval vergeefs voertuie probeer stop. Hy is uiteindelik by ’n haarsalon in, waar die haarkapper vir hom water gegee en die polisie gebel het. “Hy het maar bietjie bleek gelyk toe ek hom ’n bietjie later sien,” sê die vriendin.

Die rowers is vort met die man se selfoon.

Die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof met ander wapens as ’n vuurwapen.

Meer oor:  Potchefstroom  |  Skietvoorval  |  Mesaanval  |  Vermeende Rower  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.