Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermeende rower op hoewe in Kameeldrift doodgeskiet

’n Vermeende rower is Vrydagaand op ’n hoewe in Kameeldrift-Oos naby die Roodeplaatdam buite Pretoria doodgeskiet nadat hy en drie ander mans daar toegeslaan het.

Hulle het  ’n bejaarde man met kookwater gemartel en aangerand in ’n poging om ’n kluissleutel in die hande te kry, het ’n familielid aan Netwerk24 gesê.

Nuus oor die voorval is wyd onder die lede van plaaslike veiligheidsgroepe gedeel, maar die polisie kon teen Saterdagaand nie die besonderhede van die voorval bevestig nie.

Volgens Zelda Brown, susterskind van die slagoffer, was haar oom Jurie Kolbé (70) omstreeks 22:00 Vrydagaand alleen in sy woonstel langs die hoofhuis op die hoewe toe die aanvallers eers toegeslaan het op die hoofhuis wat aan gaste uitverhuur is.

“Die hoofhuis word van tyd tot tyd uitverhuur. ’n Groep mense wat tien dae daar sou tuisgaan, het Vrydagaand gebraai toe vier gewapende mans daar aankom. Die mense is by die huis ingedwing,” het Brown gesê.

Volgens Brown het die rowers die mense in die huis vasgebind waarna hulle na die woonstel gegaan het waar Kolbé woon.

“Hulle het ’n klip deur die venster gegooi en so ingekom. Hulle het vir my oom (Kolbé) vir die kluissleutel gevra, maar hy het eers geweier. Hulle het hom toe met kookwater gebrand en geslaan,” sê Brown.

Nadat die rowers die kluissleutel gekry het, het hulle Kolbé vasgebind in die hoofhuis waar die ander mense nog gesit het.

“Hulle het komberse oor almal se koppe gegooi en gedreig dat hulle hulle aan die brand sou steek,” sê Brown.

rower doodgeskiet, kameeldrift
Die lyk op die toneel. Foto: Verskaf

Die rowers het glo ’n vuurwapen uit Kolbé se kluis gevat en teruggegaan na die hoofhuis.

“Een van die rowers het die vuurwapen op die bank neergesit. My oom het gevoel sy hande is nie styf vasgebind nie en hy kon loskom. Hy het die vuurwapen gevat en op die rowers geskiet.”

Volgens Brown is een van die rowers noodlottig gewond.

Sy sê die ander drie het gevlug met twee selfone, kontant en horlosies.

Volgens Brown het Kolbé nie ernstige brandwonde opgedoen nie en hy is dus nie na ’n hospitaal gebring nie.

“My oom was gisteraand (Vrydag) in ’n toestand ná alles wat gebeur het.”

Sy sê alhoewel daar al verskeie inbrake by hulle was, was dit die mees gewelddadige voorval nog.

Volgens Brown was die polisie en forensiese ondersoekers Vrydagnag op die toneel.

Meer oor:  Tshwane  |  Misdaad  |  Rooftog  |  Kleinhoewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.