Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermeende rowers glo in 2 polisiekarre na roof op pad
Twee polisievoertuie was na bewering op pad na ’n huisroof gebruik. Foto: Verskaf

Vyf mans, onder wie ’n lid van die reaksie-eenheid vir ernstige misdade (Mort), ’n speurder asook ’n metro-werknemer, wat Donderdagaand in twee gemerkte polisievoertuie gery het, is in hegtenis geneem toe hulle na bewering op pad was om ’n Chinese sakeman in sy huis in Parow-Noord te gaan beroof.

Hulle verskyn Maandag in die landdroshof in Bellville op aanklagte van die besit van gesteelde voertuie, die besit van toerusting wat gebruik word om huisrowe mee uit te voer en ’n poging tot ’n huisroof.

Die moontlikheid word ondersoek dat hierdie twee polisievoertuie, ’n wit Volkswagen Caddy en ’n wit Opel Corsa, met ander huisrowe in Kaapstad se noordelike stadsgebiede verbind kan word.

Die twee voertuie behoort tans aan Mort, wat in Belhar gestasioneer is.

Kringtelevisiebeelde en die ritboek van die Corsa, wat ’n polisie nommerplaat het, word ook met ’n huisroof vroeër vandeesmaand in Durbanville verbind.

Die Volkswagen Caddy het glo die nommerplate van ’n Nissan bakkie van die polisiekantoor in Lingelethu-Wes opgehad. Die oorspronklike nommerplate van die voertuig was CEX 3097. Die voertuig was voorheen gebruik deur die Porterville-polisiekantoor maar is later na Mort ontplooi.

Lede van Bellville se polisiekantoor het die twee voertuie met vyf insittendes Donderdagaand afgetrek nadat inligting ontvang is dat ’n rooftog by die huis van ’n Chinese sakeman in Parow-Noord beplan word.

Die voertuie is tot by die sakeman se huis agtervolg. Daar het die vermeende rowers na bewering weggejaag toe hulle agterkom dat die polisie op hul spoor is. Hulle is uiteindelik in Bellville aangekeer.

Die twee polisielede wat na bewering betrokke is, is ’n konstabel van Mort en ’n lid van die speurtak van die Harare-polisiekantoor in Khayelitsha. ’n Man wat vir die metroraad se parke-afdeling in Athlone werk, is saam met hulle in hegtenis geneem. Die ander twee wat aangekeer is, is tweelingbroers.

Die konstabel was glo die bestuurder van die een voertuig en twee van die mans het saam met hom gery, terwyl die speurder glo ’n passasier in die tweede voertuig was.

Beslag is ook glo gelê op gereedskap wat in huisbrake gebruik word, naamlik koevoete, kabelbinders, handskoene asook ’n verskeidenheid nommerplate wat in albei polisievoertuie gevind is.

Bronne na aan die ondersoek het Sondag gesê hoewel die Corsa al reeds langer as ’n maand laas by Mort gesien is, is dit nooit as gesteel of vermis aangemeld nie.

Die voertuig het glo oorspronklik aan die polisie se provinsiale werwingsafdeling behoort, maar genl.maj. Mpumelelo Manci het dit later na Mort ontplooi.

Mort is Manci, die Wes-Kaapse hoof van sigbare polisiëring en tans die waarnemende Wes-Kaapse polisiehoof, se geesteskind.

Lt.kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het Sondag gesê die twee polisielede se betrokkenheid by die misdade sal strafregtelik asook departementeel ondersoek word.

Meer oor:  Bellville  |  Durbanville  |  Huisroof  |  Polisie  |  Korrupsie  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.