WAARSKUWING: 'n Foto in hierdie berig kan sommige lesers ontstel.
Sestien vermeende stropers is Sondagmiddag in die Hofmeyr-distrik in die Oos-Kaap vasgetrek.
Na bewering het die groep gebruik gemaak van 32 honde en messe om wild op die Gruisheuwel-plaas te jag.
Volgens kapt. Lariane Jonker, polisiewoordvoerder, het ’n beampte van die departement van omgewingsake Sondag inligting opgevolg toe daar op die vermoedelik onwettige jagters afgekom is. Sy sê die mans is in besit van 12 springbokkarkasse gevind, waarna hulle in hegtenis geneem is.
Die 32 honde is gekonfiskeer en na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Komani (Queenstown) geneem.
Volgens ’n bron by die departement van omgewingsake, het hulle ’n “geweldige toename” in onwettige jag, spesifiek met behulp van groot groepe honde, gedurende die inperking gesien.
’n Ondersoek na die onderskeie voorvalle is onderweg.
Intussen sal die 16 verdagtes, wat tussen die ouderdom van 23 en 48 jaar is, na verwagting Dinsdag op aanklag van onwettige jag in die landdroshof in Hofmeyr verskyn.

Van die vermeende onwettige jagters saam met hul honde wat glo gebruik is om springbokke te jag.

Die springbokkarkasse wat in die besit van die mans gevind is.