’n Paartjie van Kleinmond in die Wes-Kaap wat al die tyd in aanhouding was toe ’n familielid hulle verlede week as vermis aangemeld het, wou na bewering ’n patoloog omkoop om ’n vervalste doodsertifikaat aan hulle te verskaf.
Jackie Petermann (52) en Wynand de Klerk (49) het Vrydag in die landdroshof in Bellville op voorlopige aanklagte van korrupsie verskyn. Die saak is tot 29 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.
Luidens die klagstaat is borgtog van R5 000 elk aan hulle toegestaan. Hulle bly egter in aanhouding totdat die borgtog betaal is.
Luidens die klagstaat het hulle ’n patoloog van die Tygerberg-staatslykhuis R20 000 aangebied om ’n vervalste doodsertifikaat vir Petermann aan hulle uit te reik.

Jackie Petermann en haar kêrel, Wynand de Klerk, wou glo ’n patoloog van die staatslykhuis in die Tygerberg-hospitaal met R20 000 omkoop om ’n vervalste doodsertifikaat aan hulle te verskaf. Foto: Facebook
Die man het glo geweier en die polisie dadelik in kennis gestel.
Speurders verbonde aan die Parow-polisiekantoor het Petermann en De Klerk kort daarna in hegtenis geneem.
Netwerk24 verneem dit blyk dat die paartjie finansiële probleme het.
Die vermoede is dat hulle ’n vervalste doodsertifikaat vir Petermann wou gebruik om ’n polis op haar lewe, waarvan De Klerk die begunstigde is, op te eis.

Wynand de Klerk Foto: Verskaf
In die dae voordat hulle in hegtenis geneem is, het Petermann glo verskeie huishoudelike goedere, waaronder ’n musieksentrum, luidsprekers en selfs hul voertuig, ’n Wit Volkswagen Golf, op verskillende Facebook-groepe geadverteer. Petermann wou R15 000 vir die voertuig hê.
Haar dogter, Katie Blake, het Sondag op Facebook hulp gevra om haar ma en De Klerk op te spoor toe sy hulle nie in die hande kon kry nie.
Sy was bekommerd dat hulle iets oorgekom het.