Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde boer se vrou 2 j. later mismoedig oor ondersoek

Twee jaar ná die moord op Joubert Conradie (47), voel dit vir sy weduwee, Marlene, asof die polisie ’n streep deur die ondersoek getrek het.

Joubert is die oggend van 24 Oktober 2017 in hul huis op die plaas Uitkyk buite Klapmuts tussen die Paarl en Stellenbosch deur onbekende aanvallers doodgeskiet.

Die aanvallers het deur die kamervenster van die Jouberts se seun die huis ingekom.

Niemand is nog vir Joubert se moord in hegtenis geneem nie.

Marlene het Woensdag gesê sy, hul seun, Hannes (17), en dogter, Jana (13), is onder die omstandighede “oukei”, maar die seer is nog baie rou.

“Ons sal eintlik nooit regtigwaar oukei wees nie. Hoe kan ons? ’n Deel van ons al drie se hart is sonder rede weggeruk. Niks sal Joubert ooit weer kan terugbring nie.

“Ek weet nie hoe die ondersoek vorder nie. Ons weet nie wat aangaan nie.”

Joubert ConradieFoto: Verskaf

In ’n WhatsApp-boodskap skryf sy: “Ek wil net noem dat kaptein Conradie van die Klapmuts-polisiekantoor wel moeite doen en darem van tyd tot tyd hoor hoe dit gaan. Maar verder is daar nie ander oplossings nie. Dit loop net dood.”

Marlene sê dit is vir haar baie erg om te moet weet dat haar kinders sonder hul pa grootword.

“Volgende jaar is Hannes in matriek, Jana gaan hoërskool toe.”

Marlene het kort ná haar man se dood besluit om nie van die plaas waarop Joubert grootgeword het, weg te trek nie.

Die aanvallers het toegang tot die plaaswerf verkry deur houtpale onder die geëlektrifiseerde heining in te druk en dit op te lig. Hulle is ook so weer weg.

Marlene het destyds gesê hulle het geslaap toe Joubert ’n geluid in die huis gehoor het.

“Hy het opgestaan en sy pistool uitgehaal om te gaan kyk wat aangaan. Ek het tussen agt en tien skote gehoor afgaan. Ek wou na ons dogtertjie (11) se kamer gaan om te kyk of sy veilig is. Joubert het om die draai by die gang gekom. Hy het vir my gesê: ‘Lief, ek is geskiet’.”

Sy gesig en sy bors was vol bloed. Sy het hom in die kombuis laat lê.

“Hy het gesê hy is lief vir my. Hy wou nog verder praat, maar kon nie.”

Mihlali Majikela, polisiewoordvoerder, sê dat die ondersoek na Joubert se moord nog voortgaan, hoewel niemand nog in hegtenis geneem is nie.

“Speurders volg steeds alle leidrade op.”

Hy het ook gevra dat mense met inligting oor die voorval die Klapmuts-polisie by 021 875 8000 moet bel of die Stop Misdaadnommer by 0860 010 111 moet skakel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.