Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde boer van Boshof glo ingewag, oorval
Die paartjie se twee skaaphonde.Foto: Alet van der Walt

Die vermoorde Vrystaatse boer Sakkie van der Berg (67) van Boshof is waarskynlik Vrydagmiddag deur twee mans by ’n hek op die plaas Bloubos ingewag en oorval.

Van der Berg en sy vrou, Ina (62), is vermoedelik later die aand deur die aanvallers in hul huis vermoor. Die paartjie het in die plaashuis gewoon, maar was nie die eienaars van Bloubos nie.

Kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê Van der Berg het Vrydagmiddag ’n werker na sy huis in Boshof gebring.

Twee vreemde mans het toe op die plaaspad gestap en Van der Berg het vir die werker gevra of hy hulle ken.

Covane sê die werker het glo gesê hy weet nie wie hulle is nie.

Dieselfde werker het Saterdagoggend vergeefs gewag dat Van der Berg hom soos afgespreek kom haal om Saterdag te werk. Hy het toe ’n buurman van Van der Berg gebel wat gaan ondersoek instel het.

’n Hek op die plaas was gesluit en die buurman moes eers ’n sleutel gaan haal om by die Van der Bergs se huis uit te kom.

Hy het daar op hulle lyke afgekom.

Die hek waar Sakkie van der Berg na bewering oorval is.Foto: Alet van der Walt

Covane sê dit lyk asof Van der Berg by die geslote hek ingewag en oorval is.

Hy is vermoedelik na die huis gedwing waar hy en sy vrou met ’n stomp voorwerp aangerand en vermoor is.

Covane sê daar is geen teken van gedwonge toegang tot die huis nie.

’n Kluis in die huis is oopgesluit en leeg.

Covane sê die egpaar het vuurwapens besit, maar dit is nog onduidelik wat uit die kluis gesteel is.

Die aanvallers het vermoedelik met die Van der Bergs se wit Ford Ranger gevlug.

Teen Saterdagmiddag laat was verskeie eenhede van die polisiediens nog besig om die toneel te fynkam.

Die polisie ondersoek klagte van moord, huisroof en voertuigdiefstal.

Sakkie Groenewald, eienaar van die plaas, sê die egpaar woon al ’n hele paar jaar in die huis.

Lede van die polisie besig om die moordtoneel te fynkam. Foto: Alet van der Walt

Hulle was nie regtig boere nie, sê Groenewald.

“Van der Berg het ’n paar skape aangehou wat saam met myne geloop het,” sê Groenewald.

Hy sê die egpaar het as arbeidskonsultante vir boere in die Noord-Kaap gewerk. 

“Sover ek weet, het hulle nie geld in die huis gehad nie,” het Groenewald gesê.

Twee skaaphonde wat aan die vermoorde egpaar behoort het, het Saterdag nog by die hek gestaan en wag. Die egpaar laat sover bekend drie dogters agter. 

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Vrystaat  |  Plaasmoord  |  Moord  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.