Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde Ermelo-boer voorheen ook aangeval

'n Vuurwapen wat van 'n vermoorde boer van Ermelo in Mpumalanga gesteel is, is dieselfde een wat hy in 'n vorige aanval gebruik het om homself mee te verdedig.

Lede van die motorfietsgroep 911 Riders bid Saterdag vir die veiligheid van die boere en inwoners van die Sheepmoordistrik waar Moolman Meyer (67) verlede week op sy plaas vermoor is. Foto: Isabel Venter

Moolman Meyer (67) is verlede Woensdag op sy plaas Waaihoek, sowat 40 km van Ermelo, in die Sheepmoor-distrik, met 'n panga doodgekap.

Doors Meyer, een van sy seuns, het gesê 'n aanvaller het sy pa sowat 15 jaar gelede met 'n knopkierie aangerand. 'n Skoot het afgegaan en die aanvaller is doodgeskiet.

Dié wapen en twee selfone word nou vermis.

Doors was Maandag nog besig om die reëlings vir sy pa se begrafnis af te handel. Hulle beplan 'n roudiens, waarna 'n groot kruis op Waaihoek se kliprandjies as laaste rusplek staangemaak sal word.

In die plaashuis se tuin staan reeds 'n kleiner wit kruis met die woorde "Rus in vrede Moolman Meyer".

Saterdag het 'n groot groep mense van die distrik saam met die 911 Riders-motorfietsryers voor dié kruis vir 'n laaste eerbetoon byeengekom.

Doors het ná die tyd gesê alles voel so onwerklik, so asof sy pa enige oomblik om die draai van die dorp af gaan kom en voor die huis stilhou.

Lede van die 911 Riders wat Saterdag in Ermelo bymekaargekom het en na die plaas Waaihoek toe gery het om medelye te betoon aan die familie van Moolman Meyer (67) wat verlede week vermoor op sy plaas aangetref is. Foto: Isabel Venter

“Ek weet nie of ek my op pad terug van Windhoek uitgehuil het nie, en of die werklikheid nog net nie ingesink het nie . . . dalk sal dit later,” het Doors gesê.

Hy bestuur 'n langafstandvragmotor en was in Namibië toe hy die nuus kry dat sy pa vermis en later dood aangetref is. Hy het met sy aankoms uitgevind dat sy pa doodgekap is.

Moolman is voorverlede Saterdag laas lewend gesien toe hy en twee werkers met 'n trekker en sleepwa hout in die veld gaan oplaai het.

Sy lyk is Woensdagoggend ná 'n groot soektog sowat 800 m van die opstal langs sy trekker gevind.

Hy het oral diep sny- en kapwonde gehad.

Die polisie sukkel steeds om die werkers wat saam met hom was vir ondervraging op te spoor. Hulle is vermoedelik afkomstig van Swaziland en het intussen spoorloos verdwyn.

'n Vrou, wat volgens die polisie bekend was aan Moolman en hom saam met die werkers gesien wegry het, is vroeër deur die polisie ondervra, maar sy is intussen laat gaan.

Kol. Mtsholi Bhembe, 'n polisiewoordvoerder, het gesê die soektog word bemoeilik deurdat die verdagtes onbekend is aan die polisie.

Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA en hoof van veiligheid, het Maandag bevestig dat die gemeenskap help met die ondersoek en dat goeie vordering gemaak word.

“Die ondersoek is tans in 'n sensitiewe stadium,” het Geldenhuys gesê.

Lede van die 911 Riders wat Saterdag in Ermelo bymekaargekom het en na die plaas Waaihoek toe gery het om medelye te betoon aan die familie van Moolman Meyer (67) wat verlede week vermoor op sy plaas aangetref is. Foto: Isabel Venter
Op sy plaas, in sy tuin, is 'n wit kruis geplant vir die vermoorde Moolman Meyer (67). Foto: Isabel Venter
Past.TJ Maré, nasionale president en stigterslid van die 911 Riders (links), bid saam met Doors, een van Moolman Meyer (67) se seuns. Foto: Isabel Venter

’n Gemeenskap in rou

"Oom Meyer was 'n stil, eenkant-mens, maar ons was lief vir hom. Dit is hoekom ons hier is vandag," het Johan van der Merwe, 'n boer van die omgewing, gesê toe hy saam met die groep rouklaers en die 911 Riders-motorfietsryers op Waaihoek bymekaargekom het.

Lede van die motorfietsgroep 911 Riders bid Saterdag vir die veiligheid van die boere en inwoners van die Sheepmoordistrik waar Moolman Meyer (67) verlede week op sy plaas vermoor is. Foto: Isabel Venter

Nog 'n vriend, Martin Struthers, het vertel hoe Moolman hom altyd probeer "uitvang het" om 'n bietjie langer te kuier. En die trane het geloop toe hy vertel hoe lief sy vriend vir roomys was. En hoe hy altyd moes kopkrap oor die inkopielysies waarmee hy dorp toe gestuur is.

"Hy was maar alleen op die plaas," het Struthers gesê.

Struthers was die een wat gaan soek het na Moolman toe hy nie oudergewoonte van sy vriend gehoor het nie. Hy het ook die polisie in kennis gestel.

Geldenhuys het gesê die gemeenskap is in rou.

"Daar was tot nou toe al 20 plaasaanvalle in Mpumalanga en een plaasmoord – die een waar ons nou vandag ons laaste eer betoon."

Hy en Moolman het mekaar goed geken.

Doors het gesê sy pa het die boerdery as jong man by sy pa oorgeneem en het 50 jaar op die plaas geboer.

'n Motorfiets van die 911 Riders-groep staan voor die plaasingang van die vermoorde Moolman Meyer. Foto: Isabel Venter

"Hy het doer anderkant eers in 'n sinkhuisie gewoon, en so begin," het Doors gesê terwyl hy met sy hand na 'n plek 'n ent van die huidige opstal wys.

Moolman was verknog aan die plaas, en wou nooit êrens anders wees nie.

Hy het sy pa beskryf as 'n "tawwe ou met 'n sagte hart".

"Hy het sy kant gebring op dié aarde, ek is trots op hom, ek eer hom, hy gaan baie gemis word," het Doors gesê.

Moolman word ook oorleef deur sy seuns, Bertus, Molie en Japie, en 'n kleinkind.

Meer oor:  Moolman Meyer  |  Mpumalanga  |  Ermelo  |  Plaasmoord  |  Veiligheid  |  Boer  |  Vermoor  |  Landbou  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.