Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde Panayiotou se motor in Motherwell gekry
Costa Panayiotou tydens die moordverhoor van sy seun, Christopher Panayiotou. Foto: Argief

Die vermoorde sakeman Costa Panayiotou se gesteelde motor is verlate en vol bloedspatsels in Motherwell, Port Elizabeth, gekry.

Panayiotou (67), pa van die veroordeelde moordenaar Christopher, is Maandag omstreeks 01:00 voor die Bambi Snack Bar and Take-Aways, sy winkel in Markstraat, Uitenhage, doodgeskiet. Die winkel het dobbelmasjiene en is gewoonlik tot laatnag oop.

Panayiotou het die winkel gesluit en hy en ’n 46-jarige werknemer, wat hy by haar huis sou gaan aflaai, was op pad na sy motor oorkant die pad toe hy aangeval is.

Hy is in die bors geskiet en is op die toneel dood.

Costa Panayiotou se gesteelde Volkswagen Polo-motor is in Motherwell gekry. Foto: Verskaf

Sy Volkswagen Polo-motor is deur die aanvallers gesteel en die werknemer is ontvoer.

Die motor is later die oggend in die NU 9-gebied in Motherwell gekry. Volgens ’n ingeligte bron is albei die nommerplate verwyder en was daar bloedspatsels aan die bestuurdersitplek.

Kapt. Khaya Tonjeni, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ’n verklaring die werknemer is later die oggend in KwaZakhele gekry.

Die Bambi Snack Bar and Take-Aways in Markstraat, Uitenhage, waar Costa Panayiotou Maandag in die vroeë oggendure doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Volgens ’n ingeligte bron is die vrou glo verkrag voordat sy by ’n taverne in die gebied afgelaai is.

Die eienaar van die taverne, wat nie genoem wil word nie, het Maandagoggend gesê hy het die histeriese vrou voor die taverne aangetref en probeer vasstel wat fout is.

Volgens die eienaar het die vrou baie gehuil en sy het bang voorgekom. Hy het gesukkel om te verstaan wat gebeur het, maar sê hy het sy selfoon vir haar gegee sodat sy haar familie kon bel waarna hy die polisie gekontak het.

Tonjeni sê die vrou het ’n saak van verkragting by die polisie aangemeld.

Tonjeni sê sake van moord, verkragting, kaping en ontvoering word ondersoek, maar nog klagte kan bygevoeg word. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Enigeen wat inligting oor die voorval het, kan kapt. Josh Victor by 082 319 9204 óf 041 922 0723 bel.

* Christopher dien lewenslange tronkstraf uit vir die moord op sy vrou, Jayde, in 2015. Hy is in November 2017 skuldig bevind en gevonnis as die baasbrein agter die huurmoord.

Sinethemba Nemembe is ook lewenslange tronkstraf opgelê vir sy rol in die moord, asook ’n verdere 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.

Zolani Sibeko is 15 jaar tronkstraf opgelê vir sameswering tot moord.

Meer oor:  Costa Panayiotou  |  Uitenhage
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.