Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde polisielid ‘het altyd gelag’

Die polisie het Maandagaand sewe 9 mm-koeëldoppies en ’n 9 mm-patroon opgetel op die toneel waar twee vermeende lede van die Mongrels-bende in Lavender Hill in Kaapstad op twee polisielede geskiet het.

Sers. Donovan Prins (34) van Portlands, Mitchells Plain, is in die aanval op hom en sy kollega noodlottig gewond.

Prins, wat aan die Steenberg-polisiekantoor verbonde was en vir die misdaadvoorkomingseenheid gewerk het, het later in die Melomed-hospitaal in Tokai aan sy wonde beswyk.

Sers. Donovan Prins (34), ’n polisiebeampte van Steenberg op die Kaapse vlakte wat Maandagaand noodlottig gewond is in ’n skietery in Lavender Hill.Foto: Verskaf

Prins en sy kollega, ’n konstabel, was op patrollie toe hulle by die Fawley Hof-woonstelle in Lavender Hill op vyf vermeende lede van die Mongrels-bende afkom.

Die vermeende bendelede het glo in alle rigtings gespat toe hulle die patrollievoertuig opmerk.

Prins-hulle het twee van die vermeende bendelede in hul voertuig tot in Grindelsingel agtervolg, waar op die polisievoertuig geskiet is.

Die koeëls het Prins deur die voertuig se deur aan die bestuurskant in sy bolyf getref.

Bronne sê sy kollega het daarin geslaag om die gewonde Prins na die passasierskant oor te skuif en met hom na die Melomed-hospitaal gejaag.

’n Polisiewoordvoerder, lt.kol. Andrè Traut, sê die polisie volg alle leidrade op.

Prins was volgens sy bure ’n goeie man wat altyd vriendelik was en gelag het.

Adrian Pieterse (44) wat saam met Prins in Vyfde Laan, Portlands, woon, sê hy het Prins goed geken en hom selfs gehelp om bouwerk aan sy huis te voltooi.

“ ’n Paar van ons het hom help bou,” sê Pieterse. “Hy wou sy huis bietjie vir bietjie vergroot. Sowat ses maande gelede het ons gehelp om ’n muur om die huis op te rig en hekke daar vas te sit.”

Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag by die Steenberg-polisiekantoor, waar Prins gewerk het. Foto: Adrian de Kock

Pieterse sê Prins en sy vrou, wat in die straat as Nanna bekend staan, was vriendelik as hulle ander in die straat raakgeloop het, en het altyd vriendelik gegroet.

“Hy het baie hier verby geloop op pad winkel toe. Sy vrou was baie lief vir my dogter, Casidy (8), en het hier en daar vir haar lekkers of snoepgeld gegee,” vertel Pieterse.

“Hy was ’n baie goeie man waarvan almal gehou het.”

’n Ander buurvrou sê die Prinse was private mense, en kom glo oorspronklik van die Steenberg-omgewing.

Prins se vrou is ook ’n polisiebeampte by die Steenberg-kantoor. Sy en van haar man se naaste kollegas was nie Dinsdag by die werk nie. Beamptes wou Dinsdag nie haar naam bekend maak nie weens ’n 24-uur-wagperiode waaraan die polisie moet voldoen.

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag die polisiekantoor op die Kaapse Vlakte besoek en die voorval as tragies bestempel.

“Iets moet gedoen word om die aanvalle op polisiebeamptes in die Wes-Kaap stop te sit. Gewelddadige misdaad is ’n nasionale probleem, maar veral in die Wes-Kaap,” het Cele gesê.

Cele het verwys na ’n voorval sowat twee weke gelede waarin ses lede van die polisie se bende-eenheid gewond is tydens ’n skietery in Samora Machel, Nyanga. Twee polisielede is in die kop gewond.

“Ons as die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die regering sal iets moet doen. Dinge kan nie so aanhou nie,” het Cele gesê.

Hy beplan ’n vergadering met genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, om planne te beraam om gewelddadige misdaad te bekamp.

“Sowat twee weke gelede het ons amper ’n groot aantal polisiebeamptes verloor. Iets moet gedoen word, so gou as moontlik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.