Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde Potch-man was ‘gemoedelik, liefdevol’
Sias Willemse en een van sy kleindogters Luzé (6) onlangs op sy plaas naby Potchefstroom.

’n Gemoedelike, liefdevolle mens wat enigiets sou doen om ander te help, maar ook “’n stout mannetjie” kon wees.

Dit is hoe geliefdes en vriende Sias Willemse (71) dié Potchefstroomse sportlegende Woensdag beskryf het nadat hulle nog gesukkel het om tot verhaal te kom ná die skok oor die moord op hom.

Willemse is vroeg Dinsdagmiddag in sy huis gevind, nadat hy vermoedelik vroeër die oggend met dasse verwurg en in die nek geskiet is. Die kluis in die hoofslaapkamer was oopgemaak, maar sy wapens nog daarbinne. Die polisie ondersoek ’n moordsaak, sê kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Willemse het as jong man veral op die krieketveld uitgeblink, onder meer as kaptein van die destydse Wes-Transvaalspan. Later was hy kaptein van die Suid-Afrikaanse plattelandse krieketspan. Willemse was ook ’n vaardige rugbyspeler. Hy het vir die o/20 Wes-Transvaal-rugbyspan gespeel, en vir sowel Potch Dorp se rugby- en krieketspanne uitgedraf. Willemse het leiersposte by albei dié klubs beklee.

Sias Willemse en sy vrou, Tobianna, by hul kinders en skoonkinders. Van links is Jolandie en S.M. Willemse, en Lynné en Frik Snyman.

Sy vriende Jan Weideman, Buks Lerm en Sakkie Raath, sal hom onthou vir sy motiverende leierskapstyl en as ’n “fantastiese vriend” wat nie net gewild en aangenaam was nie, maar ook “’n stoute mannetjie” kon wees.

Willemse se vrou, Tobianna, was in die dorpie Strand in die Wes-Kaap by hul seun, SM, toe sy Dinsdagmiddag hoor haar man van die afgelope 47 jaar is dood.

“Ek het hom die oggend omtrent halfnege gebel, maar hy het nie sy selfoon geantwoord of teruggebel nie,” sê Tobianna.

Sy het haar man ’n paar keer daarna weer probeer bel en ook ’n plaaswerker op hul plaas buite die stad gekontak.

“Hy het gesê Sias het vroeër die oggend telefonies vir hom gesê hy sal bietjie later plaas toe kom, maar het nooit opgedaag nie.”

Sias en Tobianna Willemse met twee van hul kleindogters, Micka (8), en Luzé (6).

Sias en Tobianna, wat in haar jong dae vir Suid-Afrika netbal gespeel het, besit die plaas waar Sias met beeste en mielies boer.

Tobianna was later so bekommerd dat sy haar man se broerskind, Stephan Willemse, gebel en gevra het om ’n draai by hul huis in Potchefstroom te gaan maak.

“Hy is by ’n sydeur in wat nie gesluit was nie,” sê Tobianna. “Ons foksterriër Sally wat in die huis toegemaak was, het vooruit na die studeerkamer gehardloop. Daar het Stephan op Sias afgekom. Die hoofslaapkamer was baie deurmekaar, laaie is uitgegooi. Dit was vir Stephan baie traumaties, want Sias was soos ’n pa vir hom nadat sy eie pa (Daan) 21 jaar gelede in ’n motorongeluk dood is.”

Sias Willemse en sy drie kleindogters, Zenieke (10), Micka (8) en Luzé (6), op sy plaas naby Potchefstroom.

Stephan het Sias en Tobianna se dogter en skoonseun, Lynné en Frik Snyman, wat in Pretoria woon, eerste gebel.

Lynné het Tobianna se suster, Janine Eveleigh, wat ook in die Kaap woon, gebel en gevra om die hartseer nuus in persoon vir Tobianna te gee.

“Janine het toevallig juis by my gekuier,” sê Tobianna. “Ek kon dadelik op haar gesig sien daar is fout toe sy die oproep van ons dogter kry. Ons was ontsettend geskok.”

Sias Willems op sy plaas naby Potchefstroom saam met sy jongste kleindogter, Luzé.
Sias Willemse

Tobianna sê hul kleindogters, Zenieke (10), Micka (8) en Luzé (6), is gek oor hul oupa en hy was net so lief vir hulle. “Hierdie kindertjies verstaan nie mooi wat gebeur het nie. Ons sê maar net vir hulle ons weet nog nie wat hul oupa oorgekom het nie. Die kinders en hul ouers is onlangs in Johannesburg gekaap en met ’n vuurwapen aangehou. Hulle sukkel nog om dit te verwerk en is baie bang.”

SM sê die familie is oorweldig met persoonlike boodskappe vanuit selfs die buiteland, sedert die nuus oor sy pa begin versprei het. “Die goue draad wat daardeur loop, is dat hy ’n warm, liefdevolle mens was wat gehelp het waar hy kon. Dit wys hoeveel mense hom geken het en dat hy werklik ’n legende was.”

Meer oor:  Sias Willemse  |  Potchefstroom  |  Huis  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.