Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde sangoma se familie ‘was bang vir hom’

Die vermoorde Anele Hoyana (40) word in ’n tydelike beskermingsbevel daarvan beskuldig dat hy sy suster met die dood gedreig het en dat sommige familielede, waaronder sy sieklike ma, bang was vir hom.

Hoyana is twee weke gelede na bewering deur Fritz Joubert (45) op Joubert se plaas, Geluksdal, ten aanskoue van sy verloofde, Babalwa Millisewe Lasi, doodgeslaan.

Geluksdal is geleë net buitekant Gonubie in Oos-Londen. Hoyana se familie besit ’n buurplaas in die Kwelera-gebied.

Video’s van die voorval is deur Joubert op sosiale media gedeel. Dit het skokgolwe deur die land gestuur.

Fritz Joubert Foto: Facebook

Joubert is dieselfde dag as Hoyana dood nadat ’n polisielid hom glo uit selfverdediging geskiet het.

Ao. Hendrick Odendaal en konst. Phillip Bam het die aand by Joubert se plaas opgedaag toe hulle op ’n noodoproep van die bure gereageer het.

Joubert het ook Hoyana se twee jong kinders van onderskeidelik twee weke en drie jaar oud as gyselaars in die huis aangehou.

Odendaal het Joubert na bewering uit selfverdediging doodgeskiet toe Joubert hom glo aangeval en probeer ontwapen het.

Die kinders is nie in die voorval beseer nie.

Hoyana was ’n sangoma en was na verneem word besig om Joubert as ’n sangoma op te lei. Ten tyde van sy dood het Hoyana en sy gesin op Joubert se plaas gewoon.

Familie vra beskermingsbevel

Enkele dae ná Hoyana se begrafnis het dit aan die lig gekom dat sy suster, Iviwe Hoyana, in Oktober by die landdroshof in Oos-Londen aansoek gedoen het om ’n beskermingsbevel teen hom.

Iviwe skets in haar verklaring ter motivering van die bevel ’n prentjie van Hoyana as ’n gewelddadige persoon wat dagga gebruik het en wie se familie hom gevrees het.

Hoyana se ma, Tenjiwe (64), het by ’n polisiekantoor in Oos-Londen ’n beroerte gehad terwyl sy besig was om ’n beskermingsbevel teen hom te bekom.

Iviwe sê in haar verklaring Hoyana het menigte kere amok gemaak by die familie se huis met sy knopkierie in die hand. Hy het tydens een van sy vele “episodes” dié kierie na sy suster geswaai.

Volgens Iviwe het Hoyana ook tydens argumente byle skerp geslyp.

“Vroeër vanjaar, terwyl ek myself beskerm het teen sy verbale mishandeling en intimidasie in die agterplaas, het ons fisiek baklei. Hy het gedreig om my dood te maak omdat hy ouer is.

Anele HoyanaFoto: Facebook

“Ek is in konstante vrees vir my lewe. My kinders het ook hul vrese uitgespreek en gesê dat hulle nie veilig voel wanneer hy (Hoyana) by die huis is nie,” lui die verklaring wat Iviwe laat bekragtig het.

Brandstigting

Die beskermingsbevel verwys na ’n voorval op 21 September waartydens Hoyana ’n brand gestig het by die huis, aan die kant van die huis waar Iviwe se kamer geleë is. Hoyana het beweer hy het die brand gestig om van die bose geeste wat deur Iviwe veroorsaak word, ontslae te raak.

Op 22 September het Hoyana die plastiekstoeltjie van Iviwe se seun in hul ma se kruiwa aan die brand gesteek, glo omdat bose geeste op die stoel gesit het.

Tydens nog ’n voorval op 25 September was Hoyana dronk en het hy dagga gerook. Volgens die beskermingsbevel het Hoyana glo elke dag dagga gerook.

Op dié aand het Hoyana om middernag daarop aangedring dat een van Iviwe se seuns die huis se deur vir hom oopmaak.

“Hy het in die huis gebrul en my ma mishandel en haar ’n leuenaar genoem. Hy het geweier om te loop toe my ma hom vra om te loop.”

Iviwe was genoop om die kinders in ’n kamer toe te sluit. Tydens dié voorval het Hoyana gedreig om op ’n “tradisionele wyse vir Iviwe uit te sorteer”.

In die bevel word daar genoem dat Tenjiwe se gesondheid agteruit gegaan het vandat Hoyana weer huis toe gekom het.

Tenjiwe se beroerte het gelei tot verlamming en ’n spraak- gestremdheid.

Vanweë Hoyana se optrede wou Iviwe nie hê hul ma moes na so ’n omgewing terugkeer huis toe nie.

Hoyana is verbied om die familiehuis (die hoofhuis op die plaas), waar Iviwe en haar kinders woon, te betree.

Hoyana het vir Iviwe van heksery beskuldig.

Volgens die tydelike beskermingsbevel moes Hoyana sy optrede op 27 Januarie 2020 in die hof gaan verduidelik het en redes gee waarom die tydelike beskermingsbevel nie finaal bekragtig moet word nie.

Kapt. Hazel Mqala, polisiewoordvoerder, het in die oorspronklike polisieverklaring oor die moord gesê Hoyana en sy gesin was tydelik op Joubert se plaas woonagtig.

Iviwe en Hoyana se broer, Olwethu, kon nie Woensdag en Donderdag bereik word vir kommentaar nie.

Kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê in die geval van ’n persoon se sterfte val so ’n bevel weg.

Stephens Mahlangu, woordvoerder van die departement van justisie, het nie teen druktyd kommentaar gelewer nie.

Kyk hier na die beskermingsbevel.

Meer oor:  Anele Hoyana  |  Fritz Joubert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.