Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde van Christiana ‘sou sonder skroom gee’

Sy pa was so vrygewig en liefdevol dat, sou sy aanvallers vir sy televisie gevra het, hy dit heel waarskynlik sommer vir hulle sou gegee het.

“Hy was ’n awesome mens wat sonder skroom iets vir ’n ander sou gee,” sê Callie van Heerden oor sy pa, ook Callie van Heerden (78).

Callie van Heerden en sy hond, Snuffels, was onafskeidbaar.

Die seer van sy pa se moord is nog rou. Callie is ’n polisiekaptein op Christiana in Noordwes, maar is Sondag as seun na sy pa se huis nadat sy broer, Reino, op hul pa se lyk afgekom het.

“Ek sukkel nog om die prentjie uit my kop te kry,” erken hy.

Sy pa het langs Reino gebly.

Van Heerden se seuns en dogter, Sarie van Graan van Pretoria, het hul pa van die plaas af dorp toe help verhuis nadat hul ma, Lettie, skaars vier jaar terug ook in Augustus dood is.

Reino het Sondag opgemerk dat sy pa se “skaduwee”, Snuffels, nie in die tuin is nie. Dit was vreemd, want die hond en Van Heerden was onafskeidbaar, volgens Callie.

“Reino is na my pa se huis toe en wou hom oornooi om later te kom braai,” sê Callie.

Die agterdeur was oop, maar steeds was daar geen teken van Snuffels nie. Toe kry Reino sy pa se lyk, vasgebind met kledingstukke, in die een slaapkamer.

Hy was die liefdevolste, sagste mens wat geen ander sou leed aandoen nie.
Iza Loubser

Luidens bronne was daar geen sigbare wonde nie.

Snuffels is in die stort toegemaak.

Dit is nie presies bekend wanneer die aanvallers toegeslaan het nie, maar hulle het nie veel gevat nie.

“Die enigste groot ding wat ons tot dusver kon vasstel geroof is, is die TV. My pa het nie uitspattige goed gehad nie,” voeg Callie by.

Hy onthou hoe hulle as kinders soms net kon kopskud oor die goed wat hul pa so maklik weggee.

“Hy sou die TV vir hulle (die aanvallers) gegee het as hulle gevra het. Hy het geen haat in hom gehad nie. Hy het nie gehou van konflik nie.”

Christiana is in rou gedompel ná die moord op Callie van Heerden (78).

As die jare lange eienaar van die Callie’s-ysterwarewinkel op die dorp, het almal op Christiana vir Van Heerden geken.

“My pa is hier gebore. Later het hy weggetrek en in die stad by die bank gewerk. Ek dink ons het in 1989 weer hiernatoe getrek.

“Ek kan nie vir jou sê hoeveel jare my pa die winkel het nie, maar dis meer as 20 jaar. Almal het my pa geken. Vir hom en Snuffels,” voeg Callie by.

Wanneer Van Heerden sy winkel gaan oopsluit het, is Snuffels saam. En so sou die twee weer ná werk terugkeer huis toe.

’n Inwoner het bygevoeg: “Dit is ’n hou wat ons dorpie ruk tot in sy fondamente.”

Iza Loubser, Callie se skoonsuster, sê die hele Christiana is in rou en geskok.

“Dit wys net watter wonderlike mens oom Callie was. Hy was die liefdevolste, sagste mens wat geen ander sou leed aandoen nie. Wat altyd mense probeer help het, wreed uit ons lewe weggeruk is en nie die dood wat hy gekry het, verdien het nie.”

Sy onthou die kuiers op die plaas, vakansies, Kersfeeste en Nuwejaarsvieringe.

Kersdag was ekstra spesiaal, want dit was ook sy pa se verjaardag, sê Callie.

Nou is sy suster op pad vanaf Pretoria omdat haar pa vermoor is.

Callie moes intussen die lyk gaan uitken. Die kinders wag nog vir die verslag van die lykskouing, wat Maandag gedoen sou word, en “weet nog nie veel van wat gebeur het nie”.

Kol. Amanda Funani, provinsiale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê Van Heerden is vermoedelik Saterdagaand in ’n huisbraak deur minstens twee mense aangeval.

Hulle het ’n venster gebreek om toegang tot die huis te kry.

Die verdagtes is nog soek.

Meer oor:  Christiana  |  Bejaarde  |  Vermoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.