Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde van Sedgefield glo oor vreemdelinge gemaan

’n Bejaarde man van Sedgefield in die Suid-Kaap, wie se lyk Maandagaand in sy huis gevind is, het altyd mense gehelp.

Peter Henson Foto: Verskaf

Peter Henson (76) se lyk is Maandag omstreeks 22:00 op die vloer in sy huis in Paul Krugerstraat in die woonbuurt die Eiland aangetref.

Sy hande was met ’n stuk lint agter sy rug vasgebind en daar was ’n lap in sy mond. Sy mond is met dieselfde stuk lint toegebind.

’n Inwoner het Henson se hond, Rocky, buite in die straat gesien ronddwaal. Dit was vir hom vreemd en hy het ondersoek gaan instel. Hy het Henson se huis ingegaan en op sy lyk afgekom. Hy was reeds dood.

Rocky word intussen deur Sedgefield Animal Matters (SAM), ’n dierewelsynsorganisasie, versorg. SAM sê by navraag daar is twee moontlike tuistes vir Rocky wat sy personeel vandeesweek sal besoek.

Volgens ’n ingeligte is Henson se vrou, Natalie (64), verlede jaar in Junie dood en het hy sedertdien alleen gewoon.

’n Familielid sê Henson het altyd ander mense gehelp en was vriendelik met vreemdelinge, iets waarteen sy familie hom gewaarsku het.

Naasbestaandes het hom gevra om in Johannesburg by hulle te kom woon, maar hy wou nie. ’n Familielid was besig om na ’n ouetehuis vir hom te soek.

Die polisie het vroeër gesê ’n DStv-dekodeerder, ’n mes en ’n persoonlike dagboek is uit sy huis gesteel. Na verneem word, was Henson se geheime kodes vir sy bankkaarte in die dagboek aangeteken.

Henson se hond, Rocky, vir wie ’n nuwe tuiste gevind moet word. Foto: Verskaf

Die ondersoek het die polisie na ’n huis in die nabye Smutsville gelei, waar die gesteelde items gevind is. Twee mans in hul laat 20’s is in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting later vandeesweek op aanklagte van moord en huisbraak in die landdroshof in Knysna verskyn.

Volgens die ingeligte word Henson se huis nog as ’n misdaadtoneel beskou en die owerhede het nog nie sy lyk aan sy familie besorg nie.

Na wat verneem word, word ’n begrafnisdiens volgende Donderdag in die H.S. Perks Funeral Home in Knysna gereël.

Henson word oorleef deur ’n seun en dogter.

Volgens die polisie se misdaadstatistieke vir 2018-’19 was daar in die afgelope boekjaar 19 moorde in Knysna se polisiëringsgebied, wat Sedgefield insluit.

Meer oor:  Sedgefield  |  Moord  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.