Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde vrou het verdagtes glo laat saamry

Anette Jooste (58) het van Vereeniging af Mosselbaai toe gery omdat sy gedink het daar wag dalk vir haar ’n nuwe werk en ’n nuwe lewe.

Anette Jooste op haar dogter, Kristel Dreyer, se troue op 9 Maart vanjaar. Foto: Facebook

Maar nou vermoed die polisie ’n laaste daad van goedhartigheid het haar moontlik haar lewe gekos. Twee mense wat sy ’n saamrygeleentheid gegee het, is verlede Sondag in verband met haar dood in hegtenis geneem.

Die polisie het Jooste se selfoon nagespoor tot in Vereeniging, waar hulle dit by Chené Chantell Verwey (48) en Mandla Khumalo (28) gekry het. Jooste se motor is later hier gekry.

Op pad na vriende in Mosselbaai het Jooste vir twee kennisse ’n saamrygeleentheid gegee. Nou vermoed die polisie hulle het haar langs die pad vermoor en met haar motor en selfoon teruggekeer na Vereeniging. Die polisie het Jooste se selfoon tot in dié Vaaldriehoekse stad nagespeur, waar hulle vir Verwey en Khumalo aangekeer het.

Jooste is in Junie uit Vereeniging weg nadat vriende vir haar in Mosselbaai ’n werk aangebied het. Sy sou gaan kyk of dit haar geval. Vir haar susters, Elize Kolver (65) en Ronel Veldman (60), het sy vertel dat Verwey en Khumalo saam met haar gaan ry.

Kolver sê die twee verdagtes was nie vriende met haar suster nie. Hulle het haar geken en het haar bloot gevra vir ’n saamrygeleentheid. “Ek kan nie glo sy het daai mense opgelaai nie,” sê sy.

Die drie het glo onderweg in Aliwal-Noord by familie van Verwey oornag voordat hulle verder gery het na Graaff-Reinet. Jooste is nooit weer lewend gesien nie.

Haar lyk, met ’n kopwond, is op 13 Junie op die pad tussen George en Colesberg gekry. Dit was nadat die polisie in ’n anonieme oproep daarvan ingelig is.

Veldman het die Woensdag voor haar suster se dood die laaste keer telefonies met haar gepraat. Kolver sê die familie het nog baie vrae. “Ons is so seer en so hartseer vir Anette. Sy het nie ’n lekker lewe gehad nie en is jare gelede al geskei.”

Op 30 Junie, op Kolver se verjaardag, het die familie Jooste se as in Port Alfred gestrooi.

Kapt. Bradley Rawlinson, ’n polisiewoordvoerder, sê daar kan nog inhegtenisnemings wees. Verwey sal Dinsdag in die hof op Graaff-Reinet om borgtog aansoek doen. Rawlinson sê ’n vorige lasbrief is steeds hangend teen Khumalo.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.