Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrou was ‘egte Boesmanlandse ouma’

Die moord Maandag op Hannetjie Kruger (80) van Upington in die Noord-Kaap het inwoners van dié dorp verslae gelaat.

Kruger is vermoedelik Maandag tussen 12:00 en 13:00 in haar huis in ’n gegoede buurt aangeval en vermoor terwyl haar man, Hendrik, nie tuis was nie.

Marika Nel, haar dogter, het op haar lyk afgekom.

Suné Kruger Wiese, ’n familielid, het Maandagaand op Facebook geskryf sy is woedend en bitter oor die moord op haar bejaarde tante.

“As dit jou familie begin raak . . . Rus sag tannie Hannetjie. Jy was ’n dierbare mens met ’n hart van goud.”

Hannetjie Kruger (80) Foto: Verskaf

Freddie Stolper, ’n inwoner van Upington, het Kruger Dinsdag as ’n dierbare en egte Boesmanlandse ouma beskryf wat net liefde geken en gegee het.

“As ’n honger mens vir haar ’n broodjie sou vra, sou sy seker nog vir hom die hele brood gegee het. Dis die tipe mens wat sy was.”

Upington-omgewing ‘berug vir geweld teen vroue’

Die DA in die Noord-Kaap sê dit is onrusbarend dat voorvalle van gendergeweld jaarliks voorkom wanneer die 16 Dae van Aktivisme-veldtog begin.

“Jaar ná jaar is dit dieselfde jammerlike verhaal, met geen sigbare resultate ten opsigte van die vermindering van hierdie misdade nie,” sê Harold McGluwa, die DA se Noord-Kaapse provinsiale voorsitter en hoofsweep van die provinsiale koukus.

Hy sê veral die Upington-omgewing het berug geword vir gewelddadige misdade teen vroue en kinders.

“Verlede jaar is ’n 82-jarige vrou in Blikkiesdorp verkrag, en sy het later aan haar beserings beswyk. Daar was ook baie ander afgryslike moorde in die omgewing. Die vraag is, wanneer gaan dit eindig?”

Volgens McGluwa moet daar dieper gekyk word na die sistemiese mislukkings wat gendergeweld vererger in plaas daarvan om dit te bekamp.

Hy sê die massiewe agterstand in die verwerking van DNS-monsters by die nasionale forensiese wetenskaplaboratoriums, van nagenoeg 100 000 sake, ontneem duisende slagoffers van gendergeweld en ander misdade, van geregtigheid.

McGluwa is ook veral bekommerd oor die hoë voorkoms van gendergeweld onder polisielede.

Vroue sterf vandag, kinders word vandag verkrag en daar moet vandag opgetree word.

“Bheki Cele, minister van polisie, het in Oktober aangedui dat sake van gendergeweld teen 139 lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanhangig gemaak is.”

In die Noord-Kaap is 14 gevalle aangemeld waarvan ses in die groter Upington-omgewing voorgekom het.

“Hoe gaan ons gendergeweld oplos wanneer die mense wat dit moet beveg, self daaraan skuldig is?”

Hy sê dit het in Oktober aan die lig gekom dat daar geen begroting is om die instelling van die nasionale raad teen geslagsgeweld en vrouemoord te finansier nie en dat daar geen tydsraamwerk is vir die wetgewing van die Nasionale Strategiese Plan om gendergeweld en vrouemoord te bekamp nie.

“Met ander woorde, die bestryding van dié misdade bly blote praatjies.”

McGluwa het ’n beroep op Nomandla Bloem, Noord-Kaapse LUR vir vervoer, veiligheid en skakeling, gedoen om dringend die provinsie se misdaadvoorkomingsplan toe te pas.

“Vroue sterf vandag, kinders word vandag verkrag en daar moet vandag opgetree word.”

Meer oor:  Hannetjie Kruger  |  Noord-Kaap  |  Vermoor  |  Ouma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.