Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde vrou ‘wou net ’n nuwe begin hê’
Maritza van der Linde en haar dogter, Martizélle. Foto: Verskaf

My ma was ’n pragtige engel op aarde, vasgevang in ’n baie lelike wêreld.”

So beskryf Martizélle van der Linde (22) haar ma, Maritza (43), wat Dinsdag in ’n apteek op Joubertina in die Oos-Kaap vermoor is.

Volgens Van der Linde was haar ma “net liefde, wat gelewe het vir haar kinders”.

Marthinus Wessel van der Linde (46), haar pa en Maritza se gewese man die afgelope 12 jaar, het Donderdagoggend vlugtig in die landdroshof op dié plattelandse dorp verskyn op ’n aanklag van moord.

Die geskeide paartjie het egter glo steeds saamgewoon.

Hy is Dinsdagoggend omstreeks 09:05 deur die polisie in verband met Maritza se moord in hegtenis geneem terwyl hy op die grond by die apteek se deur gesit en rook het.

Maritza van der Linde en haar dogter, Martizélle. Foto: Verskaf

Maritza is skaars 20 minute vroeër oorval en met ’n mes teen haar nek gedreig.

Na bewering het die beskuldigde Maritza gegryp en al die ander mense uit die apteek gejaag.

Maritza is toe na haar ma, Drusille Vorster (61), geneem waar sy in ’n kantoor agterin die apteek gewerk het.

Hier is Vorster ook beveel om die gebou te verlaat. Toe sy weier, is sy ’n steekwond in die maag toegedien, waarna sy wel die apteek verlaat het.

Kort daarna is Maritza verskeie kere met ’n mes gesteek. Sy is op die toneel dood verklaar.

Marthinus is sedertdien in hegtenis en is Donderdagoggend met boeie om sy enkels by die hof ingebring.

Hy het aan Liesl Debbes, staatsaanklaer, gesê hy sal van die regshulp gebruik maak vir ’n prokureur. Hy beoog ook om later vir borgtog aansoek te doen.

Landdros André Aucamp het kort daarna die saak tot 30 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.

Marthinus sal intussen by die St. Albans-gevangenis in Port Elizabeth in aanhouding bly.

Ma het onveilig gevoel

Van der Linde het Donderdag gesê sy en haar pa se verhouding was al geruime tyd troebel toe sy oplaas in haar matriekjaar alle kontak met hom verbreek het. Sy het hom egter sowat ’n jaar later weer in haar lewe toegelaat ter wille daarvan om kontak met haar ma te behou.

Ongeveer twee weke gelede het haar ma van Koppies in die Vrystaat na Uitenhage in die Oos-Kaap gekom om by haar dogter te kuier. Volgens Van der Linde het haar ma onveilig gevoel en sy wou ’n nuwe begin maak.

“Sy was vir ’n kort tydjie uiteindelik weer gelukkig. Sy het al die negatiewe energie deur die bloed van Jesus afgewas en was reg vir ’n nuwe begin. Net toe sy wou lewe, is dit van haar weggevat.”

Na bewering het Marthinus van die Vrystaat na Uitenhage geryloop voordat hy Maandag na Joubertina geryloop het.

’n Betroubare bron op Joubertina het vroeër gesê Marthinus is die aand voor die moord deur verskeie mense gesien waar hy op straat ronddwaal.

“Joubertina is maar ’n klein dorpie. Almal ken mekaar. ’n Vreemde gesig staan uit, veral as hy op straat rondhang,” sê die bron.

Van Der Linde vermoed hy het hul bewegings dopgehou. “My ma het net daardie oggend nog vir my ouma (Vorster) gesê sy voel naar, want sy kan hom ruik – hy ruik soos die duiwel.”

Die ingang van die Kloof Apteek op Joubertina waar Marthinus Wessel van der Linde die afgelope week in hegtenis geneem is. Foto: Lulama Zenzile

‘Die wreedste oproep van my lewe’

Sy het haar ma die afgelope Saterdag laas gesien, voordat sy saam met Vorster na Joubertina vertrek het.

Vorster het voorheen heeltyds by die Kloof Apteek gewerk, maar help deesdae net uit met administratiewe werk. Maritza was by haar om meer te leer, aangesien sy moontlik ’n werk by ’n apteek op Uitenhage sou kon kry.

“Ek was die laaste een met wie my ma gepraat het. Ek het Dinsdagoggend boodskappe op WhatsApp gestuur en haar van die betogings op die pad vertel. Die laaste boodskap was om te sê ek is veilig by die werk. Sy het nie die boodskap gelees nie, ek het geglo sy is besig.

“Toe kom die wreedste oproep van my lewe.”

Oor Marthinus se inhegtenisneming sê Van der Linde sy het nie woorde om haar gevoelens te beskryf nie.

“Ek kan nie sê ek haat hom nie, want dit dui op gevoel vir hom. Ek voel niks, niks maar niks vir hom nie.

“Ons harte is op die oomblik so seer, maar ek is terselfdertyd so verskriklik kwaad. Want my ma was die mooiste mens, sy wou nie glo sy is mooi nie, maar sy was. Haar glimlag kon enigiemand se dag beter maak. Sy is nou ’n pragtige engel vir die Here.”

Intussen sterk Vorster tuis aan nadat sy Woensdag uit die hospitaal ontslaan is, maar moet binnekort vir verdere toetse terugkeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.