Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde wetstoepassers was ‘broodwinners, gesinsmanne’

Die Kaapse wetstoepassers wat Woensdag in Philippi doodgeskiet is, was “toegewyde beamptes, liefdevolle gesinsmanne en broodwinners” wie se dood op baie vlakke gevoel gaan word.

Die toneel waar die skietery plaasgevind het. Foto: Verskaf

Die Kaapse metroraad se direktoraat vir veiligheid en sekuriteit het Donderdag sy skok uitgespreek nadat Jan Nieuwenhuys (49) en Simtembile Nyangiwe (43) koelbloedig in Sweet Home Farm in Philippi vermoor is.

Die twee wetstoepassers, onderskeidelik van Delft en Thornton, is helderoordag glo deur twee mans genader, wat op hulle losgebrand het en hul dienspistole gesteel het.

Die twee is in ’n kritieke toestand per helikopter na ’n hospitaal gebring, waar hulle aan hul wonde beswyk het.

Volgens inligting het die twee beamptes in ’n voertuig gesit en werkers opgepas wat bouwerk in die gebied gedoen het.

JP Smith, die metro se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het albei beamptes se families Donderdag besoek en gesê Nieuwenhuys word deur sy vrou en vier kinders oorleef. Hy het 25 jaar diens gehad en sou aan die einde van die jaar uittree.

“Nyangiwe was ’n pa van drie kinders, waarvan die jongste maar net ’n baba van 11 maande oud is. Hy was die broodwinner van die gesin en sorg ook vir sy bejaarde ma,” het Smith gesê.

Smith sê terwyl hy woorde van bemoediging aan die families kon gee, is die aanval steeds ’n pynlike herinnering dat die metro se wetstoepassers elke dag uitgaan en hul lewe op die spel plaas om kwesbare gemeenskappe te beskerm.

Die Kaapse metroraad het ook die flink optrede van die polisie, wetstoepassers en nooddienste geloof wat ingegryp het om die twee wetstoepassers te help.

Twee van die wapens het aan die gesneuwelde beamptes behoort.

Die direktoraat het gesê hul gees is versterk deur die vinnige optrede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat enkele ure ná die voorval vyf mense in hegtenis geneem het en die vuurwapens van die beamptes teruggevind het.

“Inligting wat op die toneel gekry is, het die polisie na ’n informele woning in die Ramaphosa-nedersetting gelei, waar vier mans en ’n vrou met vier vuurwapens gevind is. Twee van die wapens het aan die gesneuwelde beamptes behoort,” het Smith gesê.

Richard Bosman, die direktoraat se uitvoerende direkteur, sê die bestuur het die families besoek om ondersteuning en berading aan te bied.

Dan Plato, uitvoerende burgemeester van Kaapstad, het ook die flink optrede van die metro se agentskappe, die verskillende ambulansdienste, die SAPD en hospitaalpersoneel geloof.

“Dit was ’n moeilike tyd vir alle betrokkenes en ons doen ’n beroep op die vervolgingsgesag om die swaarste straf moontlik aan die skuldiges te gee,” het Plato gesê.

Meer oor:  Philippi  |  Moord  |  Wetstoepassers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.