Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vermoorde wynboer ‘sou nie deure ooplos’

Stefan Smit (62), eienaar van die wynlandgoed Louiesenhof buite Stellenbosch, en sy vrou, Zurenah (50), het sedert Augustus verlede jaar ’n lyfwag gehad wat hulle 24 uur ’n dag by hul huis opgepas het.

Smit is Sondag, ondanks die teenwoordigheid van die lyfwag en ander sekerheidsmaatreëls, deur vier gemaskerde mans doodgeskiet.

Die aanvallers het volgens die polisie deur ’n oop deur by die huis ingekom.

Stefan Smit, wat Sondagaand in sy huis op die wynlandgoed Louiesenhof doodgeskiet is. Foto: Facebook

Die egpaar en ’n familievriendin het aandete geëet. Die lyfwag was glo in ’n ander deel van die huis waar hy woon.

Zurenah en die vriendin is glo vasgebind, maar verder ongedeerd gelaat. Hul handsakke en selfone is wel gesteel.

Die lyfwag wou Maandag nie sy naam gee nie. Hy het gesê hy het geen idee hoe die aanvallers by die huis ingekom het nie. Hy sien glo sedert Augustus verlede jaar om na die Smit-gesin se veiligheid.

Hy is in diens geneem kort nadat agterplaasbewoners van Kayamandi die plaas Watergang, wat ook aan Smit behoort het, onwettig beset het.

Die Smit-gesin se opstal is omring deur ’n elektriese heining en die huis het kringtelevisiekameras.

Vriende van Smit het Maandag ook gesê hy was baie veiligheidsbewus en sou nooit ’n deur of veiligheidshek oopgelos het nie.

Zurenah, vrou van die wynboer Stefan Smit, wat Sondagaand in hul huis op die wynlandgoed Louiesenhof deur vier gemaskerde mans doodgeskiet is. Zurenah is ongedeerd. Foto: Facebook

Doodsdreigemente

Hulle sê veral nadat Watergang beset is en hy doodsdreigemente gekry het, het hy veiligheidsmaatreëls verskerp.

Die kunstenaar Juria le Roux, ’n jare lange vriendin van Smit, het gesê in al die jare dat hulle by Smit gekuier het, het hy altyd seker gemaak dat sy huis se deure en die veiligheidshekke gesluit is.

“Ons het altyd binne gekuier, veral as dit begin skemer raak en hy het altyd gesorg dat al die deure gesluit is,” het Le Roux gesê.

Sy het hom as 18-jarige ontmoet toe haar familie uit Zimbabwe terug na Suid-Afrika verhuis het. “Stefan was die vrygewigste, liefdevolste mens wat ek geken het.

“Ja, hy kon moeilik wees, en hy was ’n harde werker, en het dit van sy werkers ook verwag, maar hy was nooit onregverdig nie.”

Sy sê in een van sy laaste WhatsApp-boodskappe aan haar, nadat hulle oor die Watergang-situasie gepraat het, het Smit gesê dat hy “ontuis voel,” en dat hy “voel die plek verwurg hom”.

Smit het hom destyds tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend om ’n interdik te kry om die onwettige besetters van sy plaas af te kry en om nuwe besetters te keer om onwettige strukture daar op te rig.

Sy prokureur, Ernest van Staden, het Maandagoggend gesê ’n kooptransaksie vir Watergang is in April vanjaar beklink. Dié plaas van sowat 60 ha is vir sowat R45 miljoen aan die Stellenbosse munisipaliteit verkoop.

Gesie van Deventer, burgemeester van Stellenbosch, het Maandag gesê hulle wag nou net vir die oordrag van die eiendom om deur te gaan.

Intussen het Midas Winana, van die grondbesettersorganisasie Azanië, die moord ten sterkste veroordeel.

'Dit was beslis nie ons nie'

“Dit was beslis nie ons nie. Ons het geen rede gehad om mnr. Stefan seer te maak nie. Ons het dan geweet die munisipaliteit het die grond gekoop. Ons onderhandel met die munisipaliteit. Mnr. Stefan was nog altyd net ordentlik met ons,” het Winana gesê.

Die vooraansig van die wynlandgoed Louiesenhof waar die eienaar, Stefan Smit, Sondagaand doodgeskiet is. Foto: Jaco Marais.

Intussen het Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR van landbou, en Albert Fritz, minister van veiligheid, Maandag op ’n mediakonferensie in Stellenbosch Smit se moord ten sterkste veroordeel.

Meyer het gesê ’n aanval op ’n plaasboer of ’n plaaswerker is ’n aanval op die landelike ekonomie en dat daar ’n einde aan aanvalle op plase moet kom.

“Ons moet ons landelike ekonomie teen misdaad en wetteloosheid verdedig,” het Meyer gesê.

Fritz het gesê dat hy Maandag om 17:00 met lt.genl. Khombinkosi Jula, Wes-Kaapse polisiehoof, vergader en dat hy hom (Jula) gaan vra wanneer die landelike veiligheidsplanne geïmplementeer gaan word.

Hy en Meyer gaan ook vergaderings met adv. Rodney de Kock, direkteur van openbare vervolgings in die Wes-Kaap, aanvra en vir hom vra dat aanvalle op plase en veral plaasmoorde in ’n ernstige lig beskou moet word wanneer dit kom by vervolging.

Hulle gaan Jula ook vra dat ’n gespesialiseerde eenheid wat na landelike veiligheid omsien, op die been gebring word en dat ’n intelligensiesentrum geskep word wat misdaadneigings in landelike gebiede, veral op plase en kleinhoewes, kan analiseer.

Plaasaanvalle neem toe en beïnvloed ook toenemend die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Ons doen 'n beroep op pres. Ramaphosa om hom sterk uit te spreek teen die landwye aanval op die landbousektor en aksie te neem om veiligheid in landelike gebiede te verseker.
Anton Smuts, Vinpro se voorsitter.

Fritz en Meyer vergader ook Donderdag met Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en Agri Wes-Kaap om te kyk hoe hulle kan help met landelike beveiliging.

Fritz het gesê hulle gaan verder seker maak dat landelike veiligheid die hoofagendapunt gaan wees op alle toekomstige gesamentlike provinsiale veiligheidsvergaderings. “Ons gaan die data oor alle plaasaanvalle van 1 Januarie vanjaar tot einde Mei by die polisie aanvra, en sal dit deurgaan en kyk wat van daardie ondersoeke geword het,” het Meyer gesê.

Albei die ministers het hul medelye met die Smit-familie en die families van ander plaasaanvalslagoffers in die Wes-Kaap betuig en gesê die aanvalle bedreig nie net die landelike ekonomie nie, maar ook die Wes-Kaap s’n.

“Landbou in die Wes-Kaap dra by tot sowat R21 miljard van die land se ekonomie. 17% van die provinsie se werkmag is plaaswerkers, 45% van ons produkte word uitgevoer. Die geweld moet einde kry,” het Meyer gesê.

Die wynbedryfliggaam Vinpro het ook Smit se moord veroordeel.

Rico Basson, Vinpro se bestuurshoof, het gesê dat hulle enige vorm van geweld, misdaad of moord op mense wat in boerderygemeenskappe woon en werk, veroordeel. “Hulle is die hoeksteen van ons bedryf en die land se ekonomie, en het die reg tot veiligheid.”

Hy het verwys na die moord op Tool Wessels van die plaas Kapteinsdrift buite Bonnievale op 13 Mei en ook na die moord op Smit Sondag.

Volgens Basson dra die wynbedryf-waardeketting nagenoeg R40 miljard tot die land se bruto binnelandse produk by en voorsien dit werk aan sowat 290 000 mense.

“Plaasaanvalle neem toe en beïnvloed ook toenemend die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Ons doen 'n beroep op pres. Ramaphosa om hom sterk uit te spreek teen die landwye aanval op die landbousektor en aksie te neem om veiligheid in landelike gebiede te verseker,” het Vinpro se voorsitter, Anton Smuts, gesê.

Hy het ook ’n beroep op wynbedryfgemeenskappe gedoen om waaksaam te wees ten opsigte van hul eie veiligheid en saam te werk deur by polisiërings- en veiligheidsprojekte in hul gebied betrokke te raak.

Meer oor:  Stefan Smit  |  Stellenbosch  |  Louisenhof  |  Misdaad  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.