Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Student (26) se lyk in veld gevind

Huldeblyke stroom in vir Nicolin Davids (26), ’n eerstejaar-verpleegstudent van Heidelberg in die Wes-Kaap, nadat sy lyk Sondag op ’n oop stuk veld oorkant die rugbystadion gevind is.

Hy is vermoedelik raakgery en sy kop is onder meer vergruis.

Nicolin Davids. Foto: Clive Pretorius

Davids, ’n oudleerling van die Kairos Sekondêre Skool in Heidelberg, het die naweek ’n sportbyeenkoms in sy tuisdorp bygewoon.

Hy het in die George-hospitaal gewerk en was ’n verpleegstudent aan die Western Cape College of Nursing. Na verneem word, sou hy Maandag die laaste vak in sy eksamen skryf.

Sy lyk is Sondag omstreeks 01:00 in die veld gekry. Na verneem word, is sy skoene gesteel. Die veld was die Saterdag as ’n parkeerterrein vir ’n sportbyeenkoms gebruik en dit was glo stampvol.

Volgens Clive Pretorius, ’n inwoner van die dorp wat Davids geken het, was hy geliefd en het hy Saterdag ook onder meer aan ’n aflosnommer op die sportdag deelgeneem.

Die polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag. ’n Lykskouing sou Dinsdag gedoen word.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar daar word betroubaar verneem dat die polisie glo reeds minstens vier jong mans ondervra het wat Davids se tekkies na bewering probeer verkoop het.

Davids het ook in die verlede vir die Heidelbergse rugbyklub uitgedraf en wou glo binnekort weer begin speel. Hy het vroeër ook in Heidelberg se daghospitaal en die kliniek in die nabye Slangrivier diens gedoen.

Huldeblyke het op Facebook ingestroom en mense het hul skok oor die voorval uitgespreek. ’n Goeie vriendin het onder meer geskryf: “My hart is geruk, ek voel so stukkend van binne. Ek het nie woorde nie. Ek wil dit nie glo, maar wat God doen, is ‘welgedaan’. Rus sag, rus soet en rus in vrede, Nicolin Davids.”

Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie. Davids word oorleef deur ’n ouma, asook drie broers en drie susters.

Die oop stuk veld in Heidelberg waar Nicolin Davids se lyk gekry is. Foto: Clive Pretorius
Nooddiensvoertuie Sondag op die veld waar Nicolin Davids se lyk gekry is. Foto: Clive Pretorius
Meer oor:  Heidelberg  |  Misdaad  |  Lyk Gevind
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.