Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Verset teen Batohi net nóg een van haar probleme

Ses maande nadat adv. Shamila Batohi in Februarie oorgeneem het as nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) bou ongeduld op omdat geen groot staatskapers vervolg word nie.

Batohi se taak word bemoeilik deur ’n tekort aan personeel en geld asook vyande wat haar werk by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in die wiele wil ry.

Maar ’n senior regeringsbron in wetstoepassing het aan Rapport gesê Batohi self wen nie vriende nie.

“Sy het die personeel uit die staanspoor in skerp taal laat verstaan dat hulle nie hul werk gedoen het nie en dat dinge onder haar gaan verander. Sy het te erg aangegaan.

Selfs lojale aanklaer-personeel is dislojaal teenoor haar. Dit lyk asof hulle op ’n soort sloerstaking is.

“Selfs lojale aanklaer-personeel wat al meer as tien jaar daar is van voor die Zuma-bewind, is dislojaal teenoor haar. Dit lyk asof hulle op ’n soort sloerstaking is,” het die rolspeler gesê.

Hy gee toe van die sake is “ingewikkeld” maar in ander gevalle is voldoende bewyse vir vervolging beskikbaar.

Verskeie ander bronne, onder wie top-strafregadvokate, sê ook ongeduld neem toe.

Batohi het by monde van haar woordvoerder, Bulelwa Makeke, gesê haar navorsing wys dat die meeste aanklaers die verandering by die vervolgingsgesag verwelkom.

“Wanneer ons voldoen aan die standaard van getuienis wat in ’n hof vereis word, word aanklagte ingedien,” sê Makeke.

’n Voorbeeld van ’n saak wat volgens kritici relatief maklik vervolg kan word, is die saak van ’n Pierneef-skildery ter waarde van meer as R6 miljoen wat in Ace Magashule se premierskantoor in Mangaung gehang het, maar na bewering deur Magashule weggegee is as geskenk. Die ondersoek na die saak is afgehandel en die dossier is ’n ruk gelede aan die NVG oorhandig.

Nog ’n voorbeeld is die onwettige voorskot van R578 miljoen aan die Guptas se maatskappy, Tegeta, wat hulle in staat gestel het om die Optimum-myn te koop.

Die NVG sukkel egter met ernstige begrotingsprobleme. Ronald Lamola, minister van justisie, het verlede maand gesê die regering oorweeg dit om private donateurs te vra om die instelling te finansier. Boonop is gemiddeld 20% van die poste in NVG-kantore vakant.

Ander kenners van toestande by die NVG sê talle personeellede onder Batohi asook in die ondersoekdirektoraat van adv. Hermione Cronje is steeds lojaal aan adv. Shaun Abrahams, vorige NDOV, en sy twee adjunkdirekteurs – advokate Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi, wat albei deur pres. Cyril Rama­phosa geskors is, maar in die howe daarteen veg.

“’n Mens moenie onderskat hoeveel mense daar is wat Jiba en Mrwebi ondersteun nie en wat steeds NVG-personeel intimideer nie. Hulle kry ook hulp van politici en invloedryke mense in ander gekaapte staatsinstellings selfs uit die parlementêre koukus van die ANC. Dit moet baie moeilik vir Batohi wees om enigiemand te kry wat sy kan vertrou,” het ’n advokaat gesê.

Senior advokate het al hul dienste gratis aangebied. Adv. James Grant, wat tot middel September waarnemende regter is, het sy dienste gratis aangebied en ander advokate uitgedaag om dieselfde te doen.

Dis egter nie so maklik nie, sê Bernard Hotz, hoof van handelsmisdaad en ondersoekende praktyk in die regsfirma Werksmans, wat die afgelope jare deur staatsinstellings in diens geneem is om met korrupsie-ondersoeke te help.

“Dit laat vrae oor verskuilde belangebotsings ontstaan wanneer enig­iemand skenkings maak aan ’n vervolgingsinstelling,” sê Hotz.

Hy en sy regspan is deur die Reserwebank gehuur om die Valke en NVG te help met die forensiese ondersoek na die plundery van die VBS Bank in Limpopo.

“Dis baie bemoedigend dat die span Valke-speurders met wie ons saamwerk uitgesoek is en uiters bekwaam is. Die probleem is dat jy nou iemand in die NVG nodig het om die sake hof toe te neem. Dis uiters ingewikkelde sake en nie die soort oorlog waar jy met ’n kettie kan opdaag nie. Dis in dié stadium bitter moeilik om daardie balans te vind tussen vinnig vorentoe beweeg en seker maak dat ons gereed is,” sê Hotz. “Daar is minder ingewikkelde sake, maar vir elke saak wat die NVG hof toe neem, moet hy vooraf 100% seker wees van ’n skuldigbevinding en nie met modder op sy gesig by die hof uitloop nie.”

Ramaphosa het Donderdag in die parlement toegegee dat daar ongeduld met vervolgings weens staatskaping is, maar benadruk dat hy nie kan ingryp nie omdat die NVG onafhanklik is en moet wees.

“Die hoof van die NVG is baie bekwaam en is sorgvuldig uitgesoek. Sy en haar kollegas gaan nog optree – ons moet haar net ruimte gee om die organisasie te herbou,” het Ramaphosa gesê in antwoord op ’n vraag van Ahmed Shaik-Emam van die NFP.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.