Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
VF Plus-egpaar 'bedwelm' en besteel in eie huis

’n Bekende egpaar van die VF Plus is dankbaar hulle is ongedeerd ná ’n nagtelike rooftog Woensdagaand by hul huis waar veral elektroniese toerusting met sensitiewe inligting gesteel is.

Wouter Wessels (33), LP van die VF Plus, en sy vrou, Tammy (32), VF Plus-lid van die Vrystaatse wetgewer, sê hulle is baie geskok en bekommerd dat vreemdelinge hul persoonlike ruimte betree het “en goed sentimeters van jou af gesteel het”.

Tammy Wessels, VF Plus-lid van die Vrystaatse wetgewer, en haar man, Wouter, VF Plus-parlementslid, voor hul huis in Bloemfontein nadat hulle Woensdagaand beroof is. Foto: Kekeletso Pitso

Wouter sê die nagmerrieondervinding in hul huis in Bloemfontein het om 20:30 begin. “Ons was tuis en het kos bestel en TV gekyk. Die volgende oomblik het Tammy gesê sy ruik iets soos gebrande koffie. Ek het gelag en gesê sy is nie lekker nie. Die volgende wat ons weet, is dat ons albei aan die slaap geraak het en eers net voor middernag, sowat drie uur later, weer wakker geword het.”

Wouter sê hulle moes baie vas geslaap het, wat gewoonlik nie die geval is nie.

Hulle vermoed ’n middel is gespuit wat hulle aan die slaap gemaak het.

Toe hulle wakker word, het hulle onmiddellik besef hul selfone, skootrekenaars en hardeskywe is weg.

Hy sê die polisie was baie vinnig op die toneel. “My skoonpa (Herman Breedt) het gehelp om die een gesteelde selfoon se sein te volg. Ek en die blitspatrollie het in daardie rigting agter die rowers aangery. Ons moes naby hulle gewees het. Hulle het van die goed laat val en ons het van ons goed, soos ’n skootrekenaar en tablette, teruggekry.”

Tammy het ook haar gesteelde handsak teruggekry, maar hul selfone en ’n horlosie is steeds weg, sê hy.

Wat vir hom vreemd is, is dat tot ou skootrekenaars uit ’n rak by hul huis gevat is, maar ander waardevolle artikels, soos horlosies en ander elektroniese goedere, is gelos.

“Ons wil nie wilde bewerings maak nie, maar dit lyk asof die doel van die rooftog was om data te bekom wat inkriminerend teen sekere mense kan wees.”

Hy sê hulle sluit nie die moontlikheid uit dat die rooftog politiek-gemotiveerd kan wees nie, aangesien dit wil voorkom asof slegs toerusting waarop belangrike dokumente en data is, gesteel is.

* Armand Cloete, woordvoerder van die VF Plus, sê in ’n nuusverklaring die voorval was slegs ’n week nadat Tammy ’n klag by die Openbare Beskermer (OB) oor moontlike tenderbedrog in die Vrystaat ingedien het.

Cloete sê in nog ’n voorval in Februarie vanjaar is ’n rekenaar met dokumente uit die huis van die Vrystaatse LUR vir finansies, Elzabé Rockman, in Dan Pienaar in Bloemfontein gesteel.

“Wanneer politici beroof word van toerusting wat inligting van openbare belang bevat, word die oorsigrol van openbare ampsbekleërs aangetas,” sê hy.

“Rooftogte by woonhuise is een van die sogenaamde trio-misdade in Suid-Afrika wat algemeen voorkom en een wat die meeste deur gewone landsburgers gevrees word.” Cloete sê die VF Plus bedank die polisie vir hul flink optrede ná die rooftog by die Wessels-egpaar.

Meer oor:  Wouter Wessels  |  Tammy Wessels  |  Bloemfontein  |  Beroof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.