Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
VF Plus-egpaar ontvrede met polisie ná inbraak

Die polisie is onbevoeg om ordentlike opvolgwerk ná ’n misdaad te doen en behoorlik met slagoffers te kommunikeer oor die vordering wat gemaak word, sê Tammy Wessels (32), Vryheidsfront Plus-lid in die Vrystaatse wetgewer.

Sy en haar man, Wouter Wessels (33), LP vir die Vryheidsfront Plus, sê hulle het nog niks van die polisie gehoor het nadat op die aand van 19 Julie by hul huis in Bayswater, Bloemfontein, ingebreek is.

Volgens hulle is ook geen vingerafdrukke geneem nie.

Wouter en Tammy Wessels. Foto: Verskaf

“Dié laaste wat ons van die polisie gehoor het, was wat hulle oor die voorval in ’n opvolgberig in Volksblad gesê het.”

Hy sê die polisie se blitspatrollie reageer blitsig en was gou op die misdaadtoneel.

“Maar dit lyk of die misdaadondersoek in die tweede fase platval, omdat geen vingerafdrukke geneem is nie. Dit is ondanks die feit dat die polisie gesê het dat hul forensiese afdeling daar was.”

Hy sê dit is nie vir hom vreemd nie as ’n mens kyk na die statistiek oor huisbrake in die noorde van Bloemfontein, “wat van die hoogste in die land is”.

“Dit lyk nie of die polisie genoeg hulpbronne het om die sake behoorlik op te volg en skuldiges aan die pen te laat ry nie.”

Netwerk24 het op 20 Julie berig dat Bloemfonteinse politici kop krap oor die vreemde huisbraak waarin skootrekenaars, selfone, hardeskywe en tablette geroof is.

Op dié elektroniese ware was onder meer “sensitiewe inligting”.

Byna ’n maand later is die Wessels-egpaar steeds dronkgeslaan oor “die vreemde, branderige, soeterige reuk” ná die rooftog in die huis.

Brig. Motansi Makhele, polisiewoordvoerder, erken daar is geen nuwe inligting nie.

Sommige mense meen dit was ’n gewone huisbraak, ander meen dit kan polities gedrewe wees.
Die Wessels-egpaar

“Ons inligting is dieselfde as wat vroeër verskaf is. Die polisie se forensiese afdeling was daar. Daar is soms ’n persepsie by slagoffers dat ’n middel gespuit of gebrand word wat hulle aan die slaap gemaak het, maar die polisie kan dit nie wetenskaplik bewys nie.

“Méér inligting kan nie bekend gemaak word nie, omdat dit die ondersoek sal belemmer.”

Makhele beklemtoon ook dat die aantal huisbrake aan die noordekant van Bloemfontein “nie buite beheer is nie en dat daar nie statistiek is om dié stelling te regverdig nie”.

Hy sê die polisie het genoeg mannekrag en voertuie vir die aantal misdade wat daar voorkom.

Netwerk24 het vroeër berig dat die rooftog gebeur het kort nadat Tammy ’n klag by adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, ingedien het om moontlike tenderbedrog in die Vrystaat te laat ondersoek.

Die saak handel oor bewerings dat die premier, Sisi Ntombela, se seuns, Sibusiso en Duduza, onregverdig in tendertoekennings in die provinsie bevoordeel is.

Die Ntombela-broers besit die maatskappy MDBS Trading en die geregistreerde adres van die maatskappy is die woonadres van die premier in Frankfort.

Die Vrystaatse departemente van polisie, paaie en vervoer, het in 2016 ’n tender aan MDBS Trading toegeken om aan die departement se kontrakteursontwikkelingsprogram deel te neem.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en voormalige Vrystaatse premier, se broer, Ezekiel, en dogter, Thoko Malembe, is ook na bewering onregverdig bevoordeel deur die program wat die belastingbetalers reeds R300 miljoen uit die sak gejaag het.

Die Wessels-egpaar sê hulle beweer nié die sake hou verband nie.

“Sommige mense meen dit was ’n gewone huisbraak, ander meen dit kan polities gedrewe wees.”

Hulle sê van die OB se kantoor is ’n erkenning van ontvangs van die klag onmiddellik ontvang.

“Die OB moet nog besluit of die saak ondersoek gaan word of nie.”

Meer oor:  Wouter Wessels  |  Tammy Wessels  |  Bloemfontein  |  Polisie  |  Inbraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.