Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Videograaf steeds kritiek ná koeëlreën op N3

Waarskuwing: Die videomateriaal mag sommige lesers ontstel. 

Daryl Kotze glimlag Sondag moedig in sy hospitaalbed. Foto: Verskaf

’n Durbanse videograaf was Sondag steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal se waakeenheid nadat ’n aanvaller Donderdagaand sowat 22 skote na hom geskiet het.

Daryl Kotze (32) het nog om 17:30 by die O.R. Tambo-lughawe naby Johannesburg op Facebook aangedui hy is op pad terug na Durban.

Teen 22:00 was hy in sy Toyota Fortuner op die N3 op pad terug huis toe van die King Shaka-lughawe af toe hy kort voor die Brickfield-afrit in ’n koeëlreën beland het. Hy is vier keer getref.

Volgens Kingsley Brown, ’n kollega in Johannesburg, is Kotze in ’n stabiele toestand.

Brown sê Kotze se vrou, Trish, en sy ma, Beryl Kotze, sit sedertdien pal langs sy hospitaalbed.

Volgens Janus Horn, ’n goeie vriend van Kotze, was Kotze Sondag baie emosioneel en getraumatiseer.

“Hy sê hy onthou net hoe pynlik die koeëls was. Hy is steeds baie bekommerd oor sy werk en of alles oukei gaan wees op daardie front. Maar van die ouens het aangebied om gratis vir sy sessies in te staan (terwyl hy nog aansterk) en dit het hom baie emosioneel gemaak,” sê Horn.

Volgens Horn is Kotze nog in baie pyn in sy bors en rug, maar die dokter het vir hom gesê die buise in sy longe moet inbly tot Maandag. Dan sal hulle eers die een buis en daarna die ander een verwyder.

Altesaam 800 ml bloed is uit sy linkerlong gedreineer.

In ’n boodskap aan Horn Sondagmiddag skryf Kotze: “Haha, ek moet na die positiewe dinge kyk. Almal hou aan om vir my te sê hoe gelukkig ek is dat die koeëls nooit iets groots getref het nie. So, ek dink dis die beste nuus, Janus.” Hy skryf ook dat dit báie seer is om te hoes.

“Hy is in die heup, arm, been en rug getref,” sê Horn. Die koeël in sy been is nog nie verwyder nie en die been is gebreek.

Volgens Brown het een koeël sy hart en die ander een sy ruggraat net gemis.

Die polisie in Sydenham ondersoek ’n saak van poging tot moord, het lt.kol. Thulani Zwane, provinsiale woordvoerder, bevestig.

Daryl Kotze se vrou, Trish (links) en sy ma, Beryl (regs) waak by sy bed. Foto: Verskaf

Volgens Horn is twee soorte slagdoppies op die toneel gevind - een lyk soos ’n R5 s’n en die ander soos dié van ’n 9mm-pistool. Hy sê hy wag egter vir die ballistiese toetse om dit te bevestig.

Die motor waarin Daryl Kotze gery het. Foto: Verskaf

Volgens Kingsley se inligting lyk dit of dié skietery dalk ’n huurmoord kan wees waar die verkeerde persoon geteiken is.

“Daryl het nie ’n stukkie gemeenheid in hom nie. Hy is ’n fantastiese ou. Ek is ook ’n videograaf. Ons is maar sagte, kunssinnige soort mense,” sê Kingsley.

Kotze het twee minderjarige kinders.

In ’n video deur Musher Khan van eThekwini Secure, wat een van die eerste mense op die toneel was, word die voorval as óf ’n mislukte kaping óf ’n huurmoord beskryf.

Die polisiewoordvoerder wou nie kommentaar oor die bespiegeling lewer of enige verdere inligting bevestig nie, want hy het Sondag nie toegang tot die dossier gehad nie.

Die video toon ’n Fortuner vol koeëlgate met bloed op die sitplekke.

Kotze is volgens sy LinkedIn-blad ’n direkteur by Barcode Media in Berea, Durban.

Horn het op Facebook gesê hy is kwaad en teleurgesteld. “Ons land laat ons in die steek!” het hy geskryf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.