’n Geliefde, afgetrede leraar van die Presbiteriaanse kerk in Darling, Ian Benhardi (74), en sy vrou, Jean, is erg getraumatiseerd nadat hulle Sondagaand deur vier mans met klapmusse aan in die kothuis waarin hulle op die plaas Oudepost woon, beroof is.
Wilfred Duckitt, een van die eienaars van die Duckitt-kwekery wat op die plaas buite Darling bedryf word, het Maandag gesê die egpaar is omstreeks 23:30 oorrompel.

Jean en Ian Benhardi. Foto: Facebook
Ian het by hulle gepleit om nie sy vrou seer te maak nie, omdat sy in ’n verswakte toestand is.
Hy sê die mans het glo ’n vreemde taal gepraat wat die egpaar nie kon verstaan nie.
“Ian het by hulle gepleit om nie sy vrou seer te maak nie, omdat sy in ’n verswakte toestand is.”
Duckitt sê dat die mans wonderbaarlik nie aan haar geraak het nie. Hulle het Benhardi egter vasgebind en die huis geplunder.
Volgens Duckitt is die egpaar se horlosies, selfone, juweliersware en kontant gesteel.
“Hulle is fisiek oukei, maar emosioneel en geestelik is hulle gekwes,” sê hy.
Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het die voorval bevestig.
Hy sê Benhardi is kort voor middernag deur ’n onbekende man wakker gemaak wat geld by hom geëis het. Die man het Benhardi toe glo met skoenveters vasgemaak waarna nog drie mans die egpaar se slaapkamer binnegekom het.
Volgens Van Wyk moes Benhardi toe vir hulle waardevolle items in die huis uitwys.
“Hulle het ’n onbekende bedrag geld, ’n kamera, juweliersware en ’n selfoon gevat,” sê Van Wyk.

Die plaas Oudepost buite Darling waar die Benhardi-egpaar Sondagaand in die kothuis wat hulle op die plaas bewoon, oorrompel en beroof is. Foto: Jaco Marais
Die mans het vermoedelik die studeerkamer se venster oopgedwing en toegang tot die kothuis verkry. Hulle het die huis deur die skuifdeur verlaat en vermoedelik te voet deur die bosse gevlug.
“Die klaer kon nie sê of hulle ’n voertuig gebruik het nie.”
Benhardi het nadat die aanvallers gevlug het, daarin geslaag om homself los te wikkel en het by die plaaseienaars om hulp aangeklop. Hulle het toe die polisie gekontak.
Van Wyk sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Enigeen met inligting oor die voorval kan die Stop Misdaadnommer, 08600 10111, skakel.