Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vier gewapende rooftogte in VS op Sassa-dag

Gewapende rowers het Woensdag, ’n dag waarop Sassa-uitbetalings gedoen is, op minstens vier Vrystaatse poskantore toegeslaan.

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) het bevestig die gewapende rooftogte was by die poskantoor in Ventersburg, Clocolan, Seloshesa buite Thaba Nchu en Ehrlichpark in Bloemfontein.

Johan Kruger, Sapo-woordvoerder, sê die werknemers en kliënte, wat in sommige van die poskantore was, is almal ongedeerd. Niks is ook by die kliënte gesteel nie.

In elk van die voorvalle is slegs ’n klein bedrag geld uit die poskantoor gesteel, sê Kruger.

Sapo se beleid is om nie spesifieke bedrae bekend te maak nie.

Hy sê die personeel sal traumaberading ontvang.

Kruger sê boewe is onder die wanindruk dat poskantore meer geld aanhou op dae wanneer die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) toelaes uitbetaal.

Vyf verdagtes tussen 24 en 64 jaar oud is vir die afsonderlike voorvalle in Selosesha en Ehrlichpark aangekeer, sê ao. Lynda Steyn, Valke-woordvoerder. Vier verdagtes is vir die voorval in Selosesha en een vir die gewapende rooftog in Ehrlichpark vasgestrek.

Die Valke se ondersoekspan vir ernstige georganiseerde misdaad in Bloemfontein ondersoek die twee sake.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Kruger sê as deel van die Poskantoor se deurlopende pogings om misdaad te voorkom, word veiligheidswagte by afsetpunte geplaas. Toestelle wat geld beskerm, is reeds by kantore met ’n hoë risiko geïnstalleer.

Kruger sê dié toestelle word by alle takke aangebring.

“Die Poskantoor, soos alle ondernemings in Suid-Afrika, het spesifiek in die tydperk van Sassa-uitbetalings ’n teiken van misdadige elemente geword.

“ ’n Toename in misdadige aktiwiteite wat verband hou met gewapende rooftogte, inbrake, transitorooftogte en aanvalle op kitsbanke word waargeneem.”

Kruger sê dié inligting word gebruik om die risiko-gebiede te bepaal en saam met wetstoepassers die risiko vir die Poskantoor te verminder.

“Ons kliënte en werknemers se veiligheid bly ons eerste prioriteit.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.