Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vier vas vir gru-moord op dokter van Tulbagh

Inwoners van die historiese dorp Tulbagh in die Wes-Kaap is geskok deur die moord op ’n geliefde plaaslike dokter wat Maandagaand koelbloedig naby sy huis met vermoedelik ’n skaapskêr doodgesteek is.

Dr. Roelof Botha (59) was ’n plaaslike huisdokter met sy eie praktyk, gelief en gerespekteer in die gemeenskap en toegewyd aan sy gesin.

Die polisie het Dinsdag vier mense van 20 tot 35 jaar oud vir Botha se moord in hegtenis geneem. Volgens inligting het een van die verdagtes met sy inhegtenisneming nog bloed op sy skoene gehad en Botha se trui aangehad.

Roelof en Lorette Botha. Foto: Facebook/Lorette Botha

Die verdagtes is Dinsdagmiddag in die Chris Hani-woonbuurt in hegtenis geneem toe talle polisievoertuie die gebied binnegegaan het.

Botha se lyk is Maandag om 18:45 langs ’n grondpad gevind nadat hy met ’n skerp voorwerp, vermoedelik die lem van ’n skaapskêr, gesteek is.

Volgens ’n bron na aan die ondersoek is die moordwapen onder Botha se viertrekvoertuig gevind.

Die polisievoertuie Dinsdag in die Chris Hani-woonbuurt toe die verdagtes in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

Botha het Maandagaand in ’n wildkamp langs die Schalkenbosch-pad net buite die dorp gaan kleiduif skiet. Daar is glo onder meer sebras in die kamp en Botha het gesien dat onbekende honde die sebras jaag.

Hy het glo op die honde geskiet, na sy voertuig teruggekeer en sy wapen en kleiduifmasjien in die voertuig gelaai. Hy het glo ’n telefoonoproep gemaak toe hy vermoedelik oorval is.

Dit is nog onbekend wat die motief vir die aanval was.

WJ Visagie, ’n inwoner van die omgewing en eienaar van ’n onderneming op die dorp, en sy gesin het Maandag omstreeks 18:30 op die gru-toneel op die Schalkenbosch-pad afgekom.

“Ons was op pad dorp toe vir ’n afspraak toe ons sy voertuig langs die pad sien. Dit was al donker,” sê Visagie. “Ek het gesien daar is groot fout, en het toe teruggedraai huis toe om my twee jong seuns en my vrou te gaan aflaai.”

Die Bothas op ’n uitstappie.Foto: Facebook/Lorette Botha

Op pad terug na die toneel het hy die polisie ontbied. Hy het sy selfoon se lig op die toneel gebruik om te kyk wat aangaan waar Botha gelê het.

“Dit was grusaam. Ek kon sien hy het gesterf en het toe my bes probeer om nie die toneel te versteur nie. Ek het vir die polisie gewag en toe het hulle met ondersoeke begin.”

Die polisie en speurders het Maandagaand tot laat na leidrade gesoek op die moordtoneel wat minder as ’n kilometer van Botha se huis is.

Botha se praktyk is in Van der Stelstraat in Tulbagh.

Talle mense in die gemeenskap het hul meegevoel uitgespreek teenoor Botha se vrou, Lorette, en dogter, Lore.

Lorette en hul dogter, Lore.Foto: Facebook/Lorette Botha

“Liefste Roelie, jy was my beste vriend,” het Lorette in ’n brief aan haar man van meer as 30 jaar geskryf wat sy per e-pos aan Netwerk24 gestuur het.

“Dit breek my hart dat jy op so ’n grusame manier van my af weggeneem is.

“Saam het ons Afrika ontdek, wat jou liefde was. Om langs ’n kampvuur te sit. Ons drie was vir ewig verbind aan mekaar, en so sal dit altyd wees.”

Lore, ’n entrepreneur, het chemiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

“My pa was die sout van die aarde en ek en my ma was sy alfa en omega,” sê sy. “Ons is ’n gesin van drie en sedert dag een baie na aan mekaar.

“My pa het sy liefde vir die natuur, vir Afrika en vir avontuur aan my oorgedra. Van die ouderdom van drie maande het my pa my Malawi toe gevat.”

Hy was ’n real life hero, sê Lore. “Hy het uit sy pad uit gegaan om sy pasiënte en die gemeenskap te help. Hy het above and beyond gegaan om mense te help en lewens te red.”

Sy sê: “Hy was my beste vriend. My mentor en ’n ongelooflike pa en man. Ons harte is gebreek dat so ’n ongelooflike mens op so ’n wrede manier van ons geneem is.

“Hy sal vir altyd onthou word vir sy sin vir humor, sy liefde vir avontuur, sy toewyding om sy pasiënte en die gemeenskap te help en sy onvoorwaardelike liefde vir my en my ma.”

Die polisie kon nog nie bevestig wanneer die verdagtes in die hof gaan verskyn nie.

Meer oor:  Dr. Roelof Botha  |  Tulbagh  |  Wes-Kaap  |  Inwoners  |  Inhegtenisname  |  Geskok  |  Moord  |  Doodgesteek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.