Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vleisverkopers glo uit miljoene geswendel

Vrystaatse groothandelverkopers van vars vleis beweer hulle is gesamentlik uit miljoene rande geswendel deur twee Bloemfonteinse neefs.

Dié neefs koop die vleis in groot maat op rekening aan om te herverkoop, maar hulle is glo miljoene rande agterstallig met hul betalings.

En terwyl die neefs nou beweer hul onderneming is bankrot, verkoop hulle glo die afgelope twee weke weer vleis, maar onder ’n ander naam.

Rassie Erasmus, ’n private speurder van die stad, ondersoek dié beweerde swendelary.

Hy sê ’n strafregtelike klag is ook Donderdag by die polisie op Dewetsdorp aanhangig gemaak oor vleis ter waarde van miljoene rande waarvoor nie betaal is nie.

Die polisie het dit bevestig.

Ao. Pieter May van die speurtak op Dewetsdorp is die ondersoekbeampte in dié saak.

Erasmus sê ’n aantal sakeondernemings wat vleis in groot maat in die Vrystaat verkoop, word gesamentlik sowat R5 miljoen geskuld.

David Mentz sr. en David Mentz jr., twee boere van Dewetsdorp, sê twee mans van ’n Bloemfonteinse vleisonderneming (die name van die mans en hul onderneming is aan Netwerk24 bekend), het op 1 Maart vanjaar ’n rekening by hulle oopgemaak vir die aankoop van vleis. “Aanvanklik het die manne hul rekening klokslag betaal,” sê die Mentze.

Op 14 Mei vanjaar is die laaste betaling van R50 000 ontvang.

Die uitstaande saldo op die rekening by Mentz jr. is meer as R2,4 miljoen en by Mentz sr. meer as R1,1 miljoen, sê Erasmus.

Volgens hom het die twee Bloemfonteinse vleisaankopers ook by ander ondernemings vleis gekoop.

Dit is deur Netwerk24 bevestig:

  • Chris Maartens van Bloemfontein word na bewering R93 000 geskuld;
  • ’n Vleishandelaar van Jacobsdal word na bewering R340 000 geskuld;
  • Free State Meat Wholesalers word na bewering sowat R140 000 geskuld;
  • Juan-Mare Dicks het bevestig dat Chamdor Wholesale van Krugersdorp (wat ook ’n tak in Bloemfontein het) na bewering R147 000 geskuld word; en
  • Henning Pretorius van Viljoenskroon het bevestig dat die Huntersvlei-slagpale na bewering meer as R280 000 geskuld word.

Derde neef betrokke

Erasmus sê hy het die twee vleisaankopers gebel.

“Die neefs het my albei na dieselfde ‘prokureur’ verwys.”

Erasmus sê hy het dié man op 1 Augustus gebel. Hy is glo ’n ander neef van die twee aankopers.

Erasmus sê volgens dié “regsverteenwoordiger” word beplan om die neefs se vleisonderneming te likwideer. Een van die neefs is ook in die proses om sy boedel te laat sekwestreer.

Erasmus sê die “regsverteenwoordiger” wou ook van hom weet: “Wie verskaf miljoene rande se vleis op krediet?”

Volgens die “regsman” het die Bloemfonteinse neefs die vleis onder kosprys verkoop en het van die vleis vrot geword. Daarby is daar glo ook vleis van die neefs gesteel.

“Die ‘prokureur’ het ook aan my gesê dat sy ‘ouens’ – die neefs – nou uit die vleisbedryf getree het en dat hulle nie geld het om hul krediteure te betaal nie.”

Erasmus sê hy het egter twee weke gelede verneem dat die twee neefs weer vleis begin verkoop het – onder ’n ander naam.

Hulle koop glo nou vleis in groot maat vir kontant aan en almal wonder waar hulle die kontant kry.

* Erasmus vra ander vleisverkopers wat skade gely het om hom te bel by 083 763 7136.

* Toe Netwerk24 die “regsman” van die twee neefs bel, het hy gesê “ek is hul bate-beskermer en hul neef”. Hy ontken dat hy hul prokureur is.

Hy sê sy neefs word verteenwoordig deur Kramer, Weihmann en Joubert Prokureurs in Bloemfontein.

“Daar is niks om te red nie, die onderneming is bankrot.”

Op die vraag waarom hulle nou glo onder ’n ander naam handel dryf, het hy gesê die eerste onderneming het net aan een van die twee neefs behoort en dat daar dus geen belemmering is op die ander een om handel te dryf nie.

“Julle moet jul feite regkry.”

Meer oor:  Geswendel  |  Vleisverkopers  |  Groothandelverkopers  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.