Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Voertuie in geweld by Ceres aan die brand gesteek
Inwoners versper die pad by die ingang na Nduli buite Ceres. Foto: Facebook/Gebeure in en rondom Ceres/Randall Maart

Drie mense, onder wie ’n minderjarige, is Woensdag in hegtenis geneem in ’n betoging oor behuising in Nduli, ’n woongebied buite Ceres in die Wes-Kaap.

Die minderjarige word glo van brandstigting verdink nadat ’n voertuig van die Witzenberg-munisipaliteit se afdeling vir paaie en stormwaterbeheer Dinsdagaand uitgebrand is.

Dieselfde aand is ’n vragmotor, wat produkte van die bekende groente-en-vrugteprodusent Laastedrif vervoer het, aan die brand gesteek.

Die R46 is Woensdag by Nduli gesluit en die munisipaliteit het motoriste, en veral vragmotors, aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik.

Veiligheidswagte is nou aangestel om die huise te beskerm nadat sommige inwoners gedreig het om dit te beset.

“Sekere lede van die gemeenskap is ongelukkig oor die toekenning van huise oorkant Nduli, wat as deel van die Vredebes-behuisingsprojek gebou is,” sê David Nasson, munisipale bestuurder.

“Die gemeenskapslede meen al die huise moet aan die inwoners van Nduli toegewys word,” sê die munisipaliteit in ’n verklaring.

Volgens Nasson het die munisipale bestuur die ontevrede inwoners Dinsdagaand te woord gestaan en die toewysing van die huise probeer verduidelik, soos dat bejaardes voorkeur gekry het. Die gemeenskap was egter steeds nie tevrede nie en die klipgooiery en geweld het voortgeduur.

Die R46 in die rigting van Touwsrivier was Woensdag feitlik die hele dag gesluit. Die polisie was in die omgewing om die situasie dop te hou, sê kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder. “Gevalle van openbare geweld word ondersoek.”

Volgens die munisipaliteit was die polisie se eenheid vir openbare orde ook op die toneel.

Die vragmotor en wa is aan die brand gesteek en die produkte is saam met die vragmotor verbrand.

Die vragmotor wat aan die brand gesteek is, behoort aan die Shoprite-groep en het produkte van Laastedrif na Kaapstad vervoer toe dit Dinsdag omstreeks 19:00 met klippe bestook is.

Volgens Cillié Landman, Laastedrif se bemarkingsbestuurder, is die bestuurder uit die vragmotor gepluk voordat hy kon omdraai.

“Die vragmotor en wa is aan die brand gesteek en die produkte is saam met die vragmotor verbrand. Die voorval het sowat 40 km van Laastedrif af gebeur.”

Volgens hom het Laastedrif, nadat hul seisoen geëindig het, steeds voortgegaan om kospakkies aan seisoenale werkers te gee omdat hy besef hoe moeilik dit is om in die pandemie werk te kry. Baie van die inwoners wat kospakkies ontvang het, woon in Nduli.

Gerugte het Woensdag die ronde gedoen dat die weermag ingeroep is om die situasie te help ontlont. Nasson sê egter die weermag was in die gebied om te help met Covid-19-bewusmaking omdat Nduli ’n brandpunt is.

Die huise wat deel is van die projek, is volgens hom ook die afgelope weke gevandaliseer toe die deure en vensters uitgebreek is.

“Veiligheidswagte is nou aangestel om die huise te beskerm nadat sommige inwoners gedreig het om dit te beset.”


Meer oor:  Ceres  |  Oproer  |  Brandstigting  |  Voertuie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.