Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrae oor liggaamsbouer se wrede dood

’n Vrou wat wreed in haar huis in Randburg in Johannesburg vermoor is, wou glo “al haar goed verkoop en oor begin”, nou soek haar familie antwoorde oor wie haar vermoor het.

Die lyk van Priscilla du Toit (42) is twee weke gelede in raaiselagtige omstandighede in die Hollyoaks-woonkompleks tussen die hoofslaapkamer en die en suite-badkamer gekry.

Priscilla du Toit Foto: Facebook

Familie en vriende worstel nou met vrae oor haar moord.

“Daar is geen teken dat iemand probeer inbreek het nie. Of iemand het sleutels van haar woonstel gehad óf sy het die deur vir iemand oopgemaak,” sê haar broer, Patrick Rosslee.

Dit is onduidelik presies wanneer Du Toit dood. Daar is trauma-wonde aan haar kop, maar die familie weet nie of sy met die vuis of dalk met ’n voorwerp geslaan is nie.

Dié voormalige liggaamsbouer het tot in 2017 gereeld foto’s van haarself op sosiale media gedeel. Sy het haar laaste inskrywing Maandag 14 Oktober op haar Facebook-blad gemaak.

Priscilla du Toit, wat verlede maand in haar huis in Randburg, Johannesburg, vermoor is. Foto: Facebook

Du Toit het twee dae voor haar dood ’n lang hartroerende boodskap op Facebook geplaas waarin sy skryf sy voel “bang en gebreek. Daar is vandag 14 Oktober vir my gesê ek lyk nie hartseer genoeg nie. Gebreek genoeg nie. Wat is hartseer genoeg, wat is gebreek genoeg?”

Sy skryf verder: “Ek voel verraai, verwerp, gebreek en bang. Is dit nie genoeg nie?”

Rosslee sê ’n veiligheidswag van die kompleks, vir wie Du Toit gereeld iets gegee het om te eet, het onraad vermoed toe hy haar ’n ruk nie gesien het nie.

“Blykbaar is die veiligheidswag toe (Woensdag 16 Oktober) saam met iemand anders na haar woonstel. Een van hulle het deur ’n venster geklim en haar sleutels het op die vloer gelê,” sê Rosslee.

Volgens hom het Du Toit se selfoon steeds op haar bedkassie gelê en lyk dit nie of enigiets gesteel is nie.

Christa Foxcroft, ’n vriendin, sê sy was die Saterdag voor Du Toit se dood by haar huis om ’n baadjie op te laai.

“Sy sou na haar ma toe trek om weer op haar voete te kom. Sy het vertel hoe opgewonde sy was om al haar goed te verkoop en oor te begin,” sê Foxcroft.

Volgens Foxcroft sou Du Toit en haar vorige kêrel saam ’n onderneming begin. Maar die verhouding het skipbreuk gely en die planne vir die onderneming het deur die mat geval.

Priscilla du Toit het aan ’n paar liggaamsbou-kompetisies deelgeneem.Foto: Facebook

Rosslee sê hy wou nie sy suster se lyk in die lykshuis in Hillbrow gaan uitken nie omdat hy sy suster wil “onthou soos sy was”.

Daarom het hy haar uitgeken op ’n foto wat op ’n digitale kamera aan hom gewys is.

Volgens hom was dit ongelooflik skokkend en soos ’n swak gruwelrolprent.

“My suster was ’n fantastiese mens. Sy was baie lief vir mense en het ’n passie vir diere en kinders gehad.”

’n Gedenkdiens is verlede Vrydag vir Du Toit, wat in die bemarkingsbedryf gewerk het, gehou.

Rosslee weet min wat in die polisie-ondersoek na die omstandighede rondom sy suster se moord aangaan.

Mpho Tshetlhane, woordvoerder van die Douglasdale-polisiekantoor, het nie Vrydag op navrae gereageer nie.

Priscilla du Toit Foto: Facebook
Meer oor:  Randburg  |  Johannesburg  |  Sterfgeval  |  Polisie-Ondersoek  |  Liggaamsbouer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.