Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Vrae oor miljoene nadat Bloem-makelaar glo verdwyn

’n Groot raaisel omhul beleggings van miljoene rande wat ’n Bloemfonteinse makelaar namens beleggers van hoofsaaklik die Vrystaat en selfs uit die buiteland gemaak het.

Robert-John Johnson (33), ’n makelaar in die Rosestad, het sedert 15 Februarie glo met net ’n selfoon, skootrekenaar, paspoort en identiteitsdokument verdwyn en bevind hom waarskynlik in die buiteland.

Hy is nie as vermis by die polisie aangemeld nie.

Johnson reageer na bewering nie op enige van sy sowat 100 beleggers se navrae nie oor hul beleggings wat na raming sowat R100 miljoen beloop nie.

Oproepe na sy selfoon gaan oor na stempos en al sy sosialemedia-profiele is gesluit. Verskeie klagte is deur beleggers by die polisie in Bayswater teen hom ingedien.

Robert-John JohnsonFoto: Facebook/Where is Robert-John Johnson?

Sy vrou, Maria, en hul agt maande oue baba is blykbaar steeds in Bloemfontein.

Ná sy skielike verdwyning sit verskeie van sy beleggers, van wie sommige hul neseiers by hom belê het, in sak en as.

'n Jare lange vriend het in November verlede jaar ’n dringende aansoek by die Vrystaatse hooggeregshof ingedien.

Robert-John JohnsonFoto: Facebook/Where is Robert-John Johnson?

Dit was nadat hy glo maande lank nie sy belegging van R1,5 miljoen by Johnson kon terugkry nie. Manthey was van plan om te emigreer toe hy die aansoek ingedien het.

Johnson het nie die aansoek teengestaan nie, en ingestem om die geld te betaal.

Luidens hofstukke het hy ná verskeie beloftes en die lewering van vervalste betalingsbewyse uiteindelik sowat R800 000 betaal. Dit was nadat Manthey hom met ’n strafregtelike klag gedreig het.

Die vriend, wat Johnson sy lewe lank ken, het ook R2,5 miljoen by hom belê.

“Ek het nog nie ’n enkele sent van dié geld gesien nie. Wat ek gedink het ’n goeie en gesonde belegging is, was toe nie.”

Hy sê dit was ’n geweldige skok toe hy van Johnson se verdwyning uitgevind het.

“Sommige van ons het al ons geld verloor en daar is absoluut niks wat ons daaraan kan doen nie. Ek is nog jonk genoeg om van vooraf ’n neseier op te bou, maar ander is nie. Baie mense kan op straat beland.”

Hy het Vrydag ’n blad op Facebook met die naam “Where is Robert-John Johnson” geskep en teen Dinsdagmiddag het die blad reeds meer as 300 volgelinge gehad.

Vir Jacques Groenewald, ’n eiendomsbestuurder in Bloemfontein, “voel dit asof hy deur die aarde ingesluk is”.

“Hy is weg met my swaarverdiende geld. Ek weet nie waar hy hom bevind nie.”

Costakis Loaunon, ’n sakeman van Vryburg, sê hy het sowat vyf maande die rente van sy belegging van R3 miljoen ontvang en twee maande later het Johnson spoorloos verdwyn.

’n Onderwyser in die stad wat einde verlede jaar R350 000 belê het, sê sy het ná ’n gesoebat R100 000 teruggekry.

Sedert sy egter vroeër vanjaar die res van haar belegging teruggeëis het, het Johnson glo op geen korrespondensie reageer nie.

“Ná verskeie oproepe het sy vrou my na hul prokureur, Nico Naudé, verwys.”

Naudé het gesê hy moet eers opdragte van sy kliënt kry voordat hy op enige navrae kan reageer.

Netwerk24 het Johnson en sy vrou herhaalde kere sonder sukses om kommentaar gebel.

Kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie verskeie klagte teen Johnson ondersoek.

Meer oor:  Makelaar  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.